AfriForum eis antwoorde oor Mbombela-boorgatheffings van tot R8 953 per maand
AfriForum versoek antwoorde van die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit oor dié metro se omstrede nuwe tarief op water wat deur private boorgate aan eiendomme voorsien word. Volgens die Mbombela-munisipaliteit se tariefskedule vir die 2026/27-finansiële jaar sal residensiële eiendomme R406,50 per maand gehef word vir boorgatwater wat aan die eiendom se waterstelsel gekoppel is. Ondernemings sal R877,12 gehef word, en waar ’n onderneming meer as een boorgat het kan heffings van tot R8 953,92 geld.
Die tarief vorm deel van die Mbombela-munisipaliteit se dreinering- en riooltariewe en is volgens die munisipaliteit op 29 Mei 2026 deur die munisipale raad goedgekeur en vanaf 1 Julie 2026 van krag.
Volgens AfriForum is daar egter onduidelikheid oor die tarief en die doel daarvan.
“Dit is veral kommerwekkend dat inwoners en ondernemings wat op eie koste in alternatiewe watervoorsiening belê, nou met verdere vaste maandelikse heffings van R406,50 tot soveel as R8 953,92 gekonfronteer word. Indien die munisipaliteit meen dat hierdie heffings nodig is om rioolkoste te verhaal, moet die munisipaliteit duidelik kan aantoon hoe elkeen van hierdie bedrae bereken is, watter diens daarvoor gelewer word en watter verband dit met die werklike gebruik van die munisipale rioolstelsel het,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum
Mbombela se tariefskedule maak reeds voorsiening vir ’n basiese maandelikse rioolheffing op eiendomme wat aan die rioolnetwerk gekoppel is of gekoppel kan word. Die skedule maak ook voorsiening vir verdere rioolheffings wat volgens waterverbruik bereken word.
AfriForum wil daarom onder meer van die munisipaliteit weet hoe die R406,50-tarief bereken is, watter koste daarmee verhaal word en hoe die munisipaliteit bepaal hoeveel water wat privaat verkry word uiteindelik in die munisipale rioolstelsel beland.
“Daar is ’n wesenlike verskil tussen iemand wat boorgatwater deur die huishouding gebruik en iemand wat sy boorgat uitsluitlik gebruik om sy tuin nat te lei. Indien die water nie in die munisipale rioolstelsel beland nie, moet daar dan gevra word op watter grondslag die inwoner dieselfde vaste rioolheffing moet betaal,” voeg De Klerk
AfriForum sal die munisipaliteit se antwoord bestudeer en die aangeleentheid met sy regspan oorweeg voordat daar oor verdere optrede besluit word.
“Munisipaliteite moet vir dienste wat hulle lewer vergoed word, maar inwoners moet terselfdertyd beskerm word teen heffings wat nie behoorlik verduidelik, bereken en geregverdig kan word nie. AfriForum sal daarom aandring op volledige deursigtigheid oor hierdie tarief,” sluit De Klerk af.



