| | | |

Veiligheid en netheid hoog op AfriForum se prioriteitslys in Chrissiesmeer

AfriForum se Chrissiesmeer-tak het op 6 Junie ’n besope persoon van ’n plaaslike gastehuis se perseel verwyder, nadat hy aggressief teenoor die eienaar van die gastehuis opgetree het. Dit volg nadat die organisasie het ’n noodoproep oor die voorval ontvang tydens ’n funksie by die gastehuis. ’n Beweerde misverstand tussen die persoon en die gastehuis-eienaar het tot ’n onderonsie gelei waarin die skuldige uiteindelik gewelddadig geraak het. AfriForum-buurtwaglede het spoedig op die inligting gereageer en die besopene in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van die perseel af begelei.

Twee dae later – op 8 Junie – het die AfriForum-buurtwag op ’n noodoproep gereageer rakende ’n voorval van kabeldiefstal op die hoek van Meyer- en Campbellstraat. Die verdagte, wat ’n ou telefoonpaal afgesny het om by die drade uit te kom, kon ongelukkig daarin slaag om met die gesteelde kabel te vlug. Die afgesnyde paal het ook heinings om inwoners se eiendom beskadig toe dit omgeval het.

Verder het die AfriForum-buurtspan in Chrissiesmeer in Mei die laaste grassnyprojekte vir die seisoen afgesluit. Meer as 10 hektaar gras is op verskeie plekke gesny om netheid en veiligheid te verbeter.

Intussen is die volhoubare asdromprojek ook besig om groot resultate te lewer. Luidens gastehuiseienaars ontvang hulle heelwat komplimente van gaste oor die dorp se skoonheid. Die dromme word weekliks skoongemaak. In Mei is 87 sakke rommel verwyder, wat die totaal vir 2026 tot dusver op 453 sakke bring wat verwyder is.

“Skoonheid en netheid in Chrissiesmeer is van kardinale belang omdat die dorp se ekonomie afhanklik is van toeriste. Niemand wil in ’n vuil dorp vakansie hou nie,” sê Millicent van den Heever, leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.

Sluit aan en raak betrokke by jou naaste AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf