AfriForum brei taktiese opleidingsvermoë uit met nuwe protospan-instrukteurs in suidstreek
AfriForum het op 13 en 14 Mei ’n protospan-instrukteurskursus in Mosselbaai aangebied waartydens sewe lede suksesvol as instrukteurs gekwalifiseer het. Die kursus vorm deel van AfriForum se volgehoue poging om sy gemeenskapsveiligheidstrukture verder uit te brei en buurtwagte met gevorderde taktiese vaardighede toe te rus.
Diegene wat die opleiding voltooi het, is AfriForum-protospanlede in die suidstreek, wat reeds as geakkrediteerde baanoffisiere dien. Die deelnemers verteenwoordig streke oor die suide heen, wat die Weskus, Boland, Suid-Kaap en Oos-Kaap insluit.
Volgens David Olivier, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek, sal die nuut gekwalifiseerde instrukteurs ’n belangrike rol speel in die verdere opleiding van buurtwaglede in taktiese wapengebruik en operasionele optrede.
“Hierdie instrukteurs gaan help om protospanlede regoor die suidstreek op te lei in praktiese taktiese vaardighede. Dit sluit onder meer die veilige benadering van verdagte voertuie en persele, asook algemene taktiese optrede tydens veiligheidsinsidente in,” sê Olivier.
AfriForum se suidstreek is in verskeie steunkringe verdeel en die nuwe instrukteurs sal voortaan op ’n gereelde basis gekwalifiseerde protospanlede in hierdie streke afrig om hul vaardighede op standaard te hou en verder te ontwikkel.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, versterk hierdie opleiding AfriForum se vermoë om gemeenskappe meer doeltreffend te ondersteun te midde van stygende geweldsmisdaad.
“Misdaad in Suid-Afrika raak toenemend gewelddadig en gemeenskappe word dikwels gedwing om groter verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar. Hierdie opleiding help om AfriForum se kapasiteit uit te brei sodat meer kursusse gelyktydig aangebied kan word en meer vrywilligers opgelei kan word,” sê Broodryk.
Hy beklemtoon verder dat protospanlede daarop fokus om wetstoepassingsowerhede in hul onderskeie gebiede te ondersteun.
“Ons lede is opgeleide vrywilligers wat daarop ingestel is om wetstoepassing te ondersteun en gemeenskappe veiliger te maak. In ’n tyd waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onder geweldige druk verkeer weens mannekrag- en begrotingstekorte, is dit belangrik dat georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture uitgebou word.”
AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsopleiding landwyd uit te brei ten einde gemeenskappe beter toe te rus om misdaad op ’n verantwoordelike en gekoördineerde wyse te help bekamp.



