AfriForum se heel eerste buurtspanlid al vyf jaar in diens
AfriForum se buurtspanne maak reeds vir jare lank ’n beduidende verskil in dorpe en stede oor die land heen. AfriForum se Centurion-tak was die eerste tak wat in 2021 só ’n span op die been gebring het en John van Biljon (56) was hierdie span se heel eerste lid. Hy is vandeesweek vyf jaar in dié tak se diens en geniet steeds elke oomblik daarvan.
“Ek en my vrou Daleen het in 2018 van Bethlehem na Centurion verhuis ná die paneelklopper waar ek gewerk het sy deure gesluit het. My vrou het in Centurion werk gekry en ek in Kempton Park. Ek het in Kempton Park gebly terwyl ek daar gewerk het en my vrou soms net een naweek per maand gesien. Dit was nie lekker nie,” vertel John.
Daleen het ’n advertensie op Facebook geplaas om te sê dat John opsoek is na werk in Centurion. Toe André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak, hom genooi het om vir die tak te werk, het John die geleentheid met beide hande aangegryp.
“Op daardie stadium kon ons vrywilligers bloot nie meer by alles wat gedoen moes word uitkom nie. John het by ons ingeval en gou geleer om alles van gras sny tot die herstel van slaggate en allerlei verfwerk te behartig. Hy is nou die perseëlvoorman by ons sorteerpunt van ons herwinningsprojek,” verduidelik André.
John maak seker dat die buurtspan al die bykomstighede het om hul take suksesvol te verrig. Hy sien onder meer toe dat daar genoeg brandstof vir grassnyers is, daar lyntjies vir bossiekappers is en dat daar genoeg sakke is om vullis in te gooi. Met sy agtergrond in die paneelklopbedryf is hy ook besonders ervare met verf.

“Die werk wat die buurtspan doen, is baie belangrik. Dit is veral belangrik om ons woonbuurt skoon en netjies te hou, want daar waar gras hoog groei en parke nie skoongemaak word nie is daar plekke vir misdadigers om weg te kruip. Ons help dus om ons woonbuurt ’n veiliger plek te maak,” sê John.
André sê John is ’n staatmaker soos geen ander nie. “Hy is netjies, werk hard en respekteer my en die ander spanlede. Hy neem inisiatief en stel ’n goeie voorbeeld vir die ander ouens. John is vir my van groot hulp en hy speel ook ’n waardevolle rol om nuwe spanlede op te lei.”
Daleen het op ’n Facebook-plasing oor John se vyfjaar diens by AfriForum gesê sy is trots op haar man. “Dis my man daai. Hy is my hero. Dankie AfriForum vir die geleentheid wat vir John geskep is. Hy lewe vir sy werk.”
John glo ’n mens moet getrou wees aan jou werkgewer en dat ’n mens nie tussen werkgewers rondspring nie. “Ek sal oor vyf jaar nog vir AfriForum werk, want ek sien uit om elke dag werk toe te gaan.”




