| | |

Takke in sentraal streek woeker met grassny, slaggate vul

Die AfriForum-takke in die sentraal streek (Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal) het gedurende Januarie en Februarie gewys dat hulle hande vir niks verkeerd staan nie. Dié takke het onder meer 159 hektaar se gras gesny en nagenoeg 20 ton teer gebruik om slaggate te vul.

Die Sasolburg-tak het weereens bewys dat min by hulle kan kers vashou wanneer dit kom by grassny nie. Dié tak het gras gesny oor ’n oppervlak van 110,6 ha, byna so groot soos 111 standaard rugbyvelde, end it blyk dat hulle nie van plan is om vinnig die grassnyers weg te bêre nie. Die Rustenburg-tak het 39,65 ha gras in hierdie tydperk gesny.

In Lichtenburg en Kroonstad is die AfriForum-takke verseker slaggate se baas. Die Kroonstad-tak het 10 ton teer gebruik om slaggate te vul en die Lichtenburg-tak 9,7 ton teer.  Die Lichtenburg-tak is reeds ’n geruime tyd besig om slaggate in dié dorp uit die weg te ruim.

AfriForum Vullisverwydering, ’n bekostigbare en betroubare vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein, het in hierdie tyd ook 107 ton vullis uit Bloemfontein-gemeenskappe verwyder.

“Die werk wat ons takke doen wys dat gemeenskappe nie net kan kla oor swak dienslewering nie, maar self kan opstaan en ’n verskil maak. Wanneer mense saamstaan en verantwoordelikheid vat vir hul omgewing, kan ons dorpe weer plekke word waarop ons trots kan wees,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraal streek.

Benewens hope gras en tonne teer het die AfriForum-takke in hierdie streek ook vullis verwyder, verskeie skoonmaakaksies aangepak, straatname en padmerke geverf, en selfs ’n paar skole veiligheidsoudits uitgevoer.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en help om só ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf