AfriForum se Broadwood-buurtwag maak oorgroeide vlei skoon
AfriForum se Broadwood-buurtwag in Gqeberha het op 14 Maart ’n skoonmaakprojek by die vlei in Constanceweg aangepak, nadat plantegroei dié area die afgelope paar jaar oorgeneem het weens die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit se swak dienslewering. Buiten dat die vlei ’n seer oog was, het dit ook die moontlikheid vir oorstromings tydens die reënseisoen ingehou én ’n blyplek vir haweloses en ’n skuilplek vir misdadigers geword. Dié reusetaak is onlangs voltooi.
Gedurende die projek is alle uitheemse bome en bosse, wat die vlei oorgroei het, verwyder en met ’n houtversnipperaar opgekap. Die houtsnipsels is in die omringende bos as kompos gestort. Bossiekappers is gebruik om die riete en lang gras om die vlei te sny. Die metro het eindelik vier vragmotorvragte vol verwyderde plantegroei weggery.
Hierdie skoonmaakprojek is in samewerking met AfriForum Jeug se Port Elizabeth-tak, die Broadwood-inwonersvereniging en die metro aangepak. Intussen het Citywide Security R2 000 tot die projek bygedra en arbeid verskaf en Talisman Hire se Gqeberha-tak het toerusting – waaronder die houtversnipperaar, bossiekappers en ’n kettingsaag – gratis beskikbaar gestel. Ander gemeenskapslede het gesorg dat diegene wat die harde arbeid verrig genoeg eet- en drinkgoed het. Danksy Gert Engelbrecht, DA-wyksraadslid vir die omgewing, kon hierdie skoonmaakprojek met die nodige toestemming van die metro plaasvind.
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, toon hierdie gesamentlike projek tussen AfriForum se Broadwood-buurtwag en ander rolspelers wat gedoen kan word as die gemeenskap saamstaan.





