|

Maak die deur nóú oop vir privaat sektor om munisipaliteite se water reg te ruk, eis AfriForum

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum het vandag ’n beroep op minister Pemmy Majodina, minister van Water en Sanitasie, gedoen om die privaat sektor die geleentheid te gee om munisipaliteite se water- en sanitasiedienste van ondergang te red. Dié versoek volg in reaksie op Majodina se aankondiging dat ieder en elk van die land se 257 munisipaliteite se waterprobleme só ernstig is dat dit nasionale ingryping vereis, maar dat begrotings dit nie toelaat nie.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, het AfriForum al telkens daarop gewys dat die land se waterkrisis ’n mensgemaakte probleem is wat spruit uit die verval van munisipale infrastruktuur en gebrekkige instandhouding.

“Hoewel sekere waterrade water in grootmaat kán voorsien, skiet munisipaliteite ver te kort met die instandhouding en bestuur van waterpypnetwerke en pompstasies, en die herstel van waterlekkasies. Dit is hoekom die krane van miljoene inwoners in die uithoeke van die land dikwels leegloop, al is daar tegnies genoegsame water beskikbaar,” verduidelik De Klerk.

De Klerk benadruk dat daar nou, in die afwesigheid van munisipaliteite se vermoë om die krisis te bestuur en die nasionale regering se gebrekkige begroting, slegs een haalbare oplossing is, naamlik die verhoogde en naatlose samewerking tussen die privaat sektor en plaaslike regering.

President Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede in Februarie erken dat water, naas misdaad, nou die enkele grootste kwessie vir die land se inwoners is en dat swak beplanning en onvoldoende instandhouding die rede vir die probleem is. Hy het hiertydens die samestelling van die Nasionale Waterkrisiskomitee aangekondig en bekendgemaak dat meer as R156 miljard beskikbaar gestel gaan word om water- en sanitasieinfrastruktuur oor die volgende drie jaar te finansier.

Dié benadering bied egter volgens De Klerk nie ’n oplossing vir die krisis nie. “Die burokratiese rompslomp behoort nou uit die weggeruim te word in die belang van elke inwoner van die land sodat praktiese oplossings onmiddellik ontsluit kan word. Die deur moet oopgemaak word vir kundiges in gemeenskappe en die privaat sektor om, onderhewig aan duidelike standaarde, aanspreeklikheid en deursigtigheid, saam met plaaslike regering die herstel, instandhouding en bestuur van waterinfrastruktuur te hanteer. Sonder hierdie vlak van samewerking gaan die krisis net verdiep. Nóg ’n ‘praatspan’ wat uiteindelik net nóg geld na die probleem wil gooi, gaan nie die krisis afweer nie – privaatsektorbetrokkenheid is nou die enigste haalbare oplossing.”  

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf