| |

AfriForum-buurtwag span kragte saam met tien ander veiligheidsvennote tydens massapatrollie in Benoni

AfriForum se Benoni-buurtwag het verlede Vrydagaand (24 Julie 2026) tydens die organisasie se landwye massapatrollie kragte saamgesnoer met tien ander plaaslike veiligheidsvennote om die strate van Benoni te beveilig. Altesaam 23 AfriForum-buurtwaglede het aan die patrollie deelgeneem en ’n sterk sigbare teenwoordigheid in dié Oos-Randse dorp gehandhaaf.

Lede van AfriForum se Benoni-buurtwag tree aan vir die massapatrollie

Volgens Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, was dié gesamentlike sigbaarheid van veiligheidsrolspelers so suksesvol dat geen ernstige misdaadvoorvalle tydens die patrollie aangemeld is nie. “Die hoë sigbaarheid van veiligheidsrolspelers in Benoni het beslis die gewenste uitwerking gehad en bevestig die waarde wat proaktiewe sigbare patrollies en samewerking tot die bevordering van gemeenskapsveiligheid voeg. Die patrollie is daarop gemik om misdaad aktief teen te werk, vertroue in die gemeenskap te bou en samewerking tussen plaaslike veiligheidsinstellings en nooddienste te verstrek – en die afgelope patrollie het aan al hierdie kritieke vereistes voldoen. Op hierdie manier bou ons as gemeenskap aktief saam aan ’n veiliger Benoni,” verduidelik Gerber.

Benewens AfriForum se Benoni-buurtwag het Black Bear Security, BlackHawk Tactical, CMS Security, Supercops Security, Trio Security, NoJack, A-Tac Security, SecureFire, ER24 en die Community Chaplaincy Service ook aan hierdie massapatrollie deelgeneem.

Gerber benadruk dat die waarde van inisiatiewe soos dié nie net daarin lê om op misdaad te reageer nie, maar om dit deur ’n sterk sigbare teenwoordigheid te voorkom.

“Wanneer gemeenskappe, privaat veiligheidsvennote en nooddienste hande vat, stuur dit ’n duidelike boodskap dat misdaad nie in ons gemeenskappe geduld sal word nie. Ons is dankbaar vir elke vrywilliger en veiligheidsvennoot wat hul tyd afgestaan het om deel van hierdie massapatrollie te wees. Deur saam verantwoordelikheid vir ons veiligheid te aanvaar, bou ons nie net veiliger woonbuurte nie, maar ook sterker en meer weerbare gemeenskappe,” sluit sy af.

Gemeenskapsveiligheid in aksie tydens die pas afgelope massapatrollie in Benoni.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid