Onderrig, education, school, skool
| | |

Matriekuitslaesaak: Uitspraak voorbehou in Inligtingsreguleerder se aansoek om verlof tot appèl

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

Regters Letty Molopa-Sethosa, Omphemetse  Mooki en Mark Morgan (waarnemend) het vandag uitspraak voorbehou in die saak oor die Inligtingsreguleerder (IR) se aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak wat die openbare bekendmaking van matriekuitslae wettig. Die regters het in Desember 2025 in die guns van AfriForum en ander partye beslis dat die uitslae steeds in die toekoms in die media gepubliseer mag word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, hoop dié burgerregteorganisasie dat die saak nou uiteindelik afgehandel kan word. Regsaksie oor die openbare bekendmaking van matriekuitslae duur reeds meer as vier jaar lank. In 2022 het die hof AfriForum en ander belanghebbendes die eerste keer gelyk gegee dat die bekendmaking van die uitslae in openbare belang is en daarom moet voortgaan.

Aan die einde van 2024 het die IR probeer verhoed dat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) die 2024-matriekuitslae bekendmaak. Die IR se aansoek om ’n interdik daarteen te verkry, het egter misluk, waarna die saak oor die meriete gevolg het. In Desember 2025 het die volbank regters in hul uitspraak bevestig dat matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word. Verder is bevind dat die gebruik van  eksamennommers as enigste identifikasiemiddel voldoende beskerming vir matrikulante se privaatheid bied en dat die DBO regmatig opgetree het deur nie die IR se opdrag om die uitslae terug te hou, na te kom nie.

In die aansoek om verlof tot appèl, het die IR onder meer die hof se jurisdiksie om die verontagsaming van statutêre opdragte soos dié van die reguleerder aan die DBO te kondoneer, betwyfel. Daarteenoor, het AfriForum en die DBO se regspanne die hof se jurisdiksie beklemtoon en weer die beskerming wat eksamennommers aan leerders se reg tot privaatheid bied, bevestig.

Volgens Bailey, beïnvloed die uitkoms van die saak meer kwessies as net die bekendmaking van matriekuitslae. “Verskeie navorsingsterreine werk met inligting van individue wat slegs deur middel van nommers of kodes geïdentifiseer kan word. Dit word juis gebruik om hulle reg tot privaatheid en anonimiteit te beskerm. Die regters se beslissing sal dus ook die toekomstige gebruik van data en die voortsetting van lewensnoodsaaklike navorsing bepaal. Die uitkoms van vandag se verrigtinge sal bydra daartoe om die balans tussen die beskerming van die reg tot privaatheid en die bevordering van openbare belange duideliker te omskryf.”

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners