25 buitelanders vas ná AfriForum-buurtwag se flink optrede in Vredendal-klopjag
Die AfriForum-buurtwag in Vredendal het ’n beduidende rol gespeel in die arrestasie van 25 buitelanders van Asiatiese herkoms, wat verbind word met ’n georganiseerde koperdiefstalsindikaat. Tydens die klopjag op 27 Januarie is gesteelde koperkabels ter waarde van sowat R3 miljoen gevind en gekonfiskeer. Die koperkabels was glo bestem om na Gqeberha in die Oos-Kaap vervoer te word.
AfriForum se buurtwag het deur die loop van die oggend verdagte optrede opgemerk en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dadelik daarvan verwittig. Vinnige optrede, die doelgerigte insameling van inligting en noue samewerking binne AfriForum se veiligheidstrukture, asook doeltreffende samewerking met die SAPD, het uiteindelik vrugte afgewerp toe die verdagtes aangekeer is.
Volgens Tommy van Zyl, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, wys hierdie sukses presies wat moontlik is wanneer gemeenskappe georganiseer, waaksaam en bereid is om verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem. “Hierdie arrestasies stuur ’n duidelike boodskap aan sindikate dat gemeenskappe nie magteloos is nie en dat misdaad nie onbestrede geduld sal word nie.”
Van Zyl voeg by dat AfriForum se buurtwagte ’n kritieke rol speel as oë en ore op voetsoolvlak en dat samewerking met wetstoepassers ’n noodsaaklike deel is van volhoubare gemeenskapsveiligheid.
AfriForum wil spesifiek die Weskus-SAPD bedank vir hul spoedige en professionele optrede en deeglike ondersoekwerk wat tot hierdie suksesvolle arrestasie bygedra het. Die goeie samewerking tussen die buurtwag en die SAPD het verseker dat betroubare inligting betyds opgevolg is.
AfriForum se Vredendal-buurtwag doen ’n beroep op gemeenskappe om aktief betrokke te bly by hul plaaslike buurtwagte en om verdagte aktiwiteite onverwyld aan te meld. “Volhoubare samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassers bly ’n kernwapen in die stryd teen misdaad,” sluit Van Zyl af.
Om betrokke te raak by AfriForum se tak-strukture in Vredendal, besoek die volgende skakel: Sluit-aan.afriforum.co.za.



