| |

Gautengse misdaadbestryders nou vredesbeamptes: AfriForum waarsku oor wetlike- en veiligheidskwessies

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum doen ’n beroep op die nasionale en provinsiale owerhede om ten volle bekend te maak wat die opleidings- en keuringsprosesse is wat gevolg is om meer as 9 000 sogenaamde misdaadbestryders se status tot vredesbeamptes aan te pas. Die organisasie eis ook inligting oor die wetlike raamwerk wat hierdie aanwysing ondersteun en om te verseker dat die gepaste toesig- en verantwoordingsmeganismes hier rondom in plek is.

Dit volg ná die minister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, Vrydag (30 Januarie) aangekondig het dat meer as 9 000 misdaadbestryders voortaan vredesbeamptestatus sal geniet. Dít ten spyte van die voortgesette gebrek aan duidelikheid oor hul opleiding, keuring en regsstatus.

Hierdie aankondiging volg op ’n verdoemende verslag deur Kholeka Gcaleka, die openbare beskermer, in Oktober 2025, wat bevind het dat die stigting van die Gautengse misdaadbestryders onwettig was en dat hulle nooit ontplooi moes word nie. In plaas daarvan om hierdie fundamentele wetlike tekortkominge aan te roer, glo AfriForum dat die regering probeer om ’n onwettige struktuur terugwerkend te wettig deur dit net te herbenoem.

Volgens prof. Firoz Cachalia, die waarnemende minister van Polisie, het die misdaadbestryders na bewering al die nodige opleiding en assesserings ondergaan en is hulle bevoeg om hul pligte binne die bestek van die wet uit te voer. Tot op hede is daar egter geen inligting verskaf oor die aard van die opleiding, die aanbieder, tydsduur of akkreditasie nie. Daar is ook geen aanduiding van hoe bevoegdheid na afloop van die opleiding beoordeel is nie. AfriForum se vorige versoeke in hierdie verband het onbeantwoord gebly.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, sê die gebrek aan deursigtigheid is uiters kommerwekkend.

“Die regering herhaal aanhoudend dat hierdie misdaadbestryders ‘behoorlik opgelei’ is, maar niemand kan sê watter opleiding hulle eintlik ontvang het nie. Wanneer duisende individue skielik wetstoepassingsbevoegdhede kry, verdien die publiek duidelike antwoorde eerder as om deur politici gepaai te word,” sê Broodryk.

AfriForum waarsku dat vredesbeamptestatus nie ’n simboliese benaming is nie, maar een wat werklike en verreikende magte dra, insluitend die gesag om te arresteer en die wet af te dwing. Die toekenning van sulke magte sonder volle deursigtigheid rakende opleiding, keuring en toesig skep ernstige risiko’s vir die publiek en maak die deur oop vir magsmisbruik en potensiële menseregteskendings.

Broodryk sê voorts dat Gcaleka se bevindinge nie geïgnoreer kan word nie. “Jy kan nie ’n onwettige struktuur regstel deur ’n nuwe titel daaraan te heg nie. As die oorspronklike stigting onwettig was, moet enige poging om dit te wettig, gegrond wees op behoorlike wetgewing, duidelike regulasies en wettige prosesse. Enigiets minder as dit ondermyn die oppergesag van die reg en stel gewone burgers bloot aan onaanvaarbare risiko,” sê hy.

AfriForum bly veral bekommerd oor die vraag of behoorlike keurings en sielkundige assesserings uitgevoer is voordat vredesbeamptestatus aan die individue toegeken is. In ’n land wat reeds sukkel met hoë vlakke van geweldsmisdaad, swak polisiëringskapasiteit en lae openbare vertroue in wetstoepassing, kan die instelling van vredesbeamptes, wat nie behoorlik gekontroleer word nie, openbare veiligheid vererger, eerder as versterk, terwyl dit hierdie misdaadbestryders ook ’n valse gevoel van selfvertroue kan gee en hulle sodoende in gevaar stel. 

“Die misdaadbestryders is ’n poging om, vir politieke gewin, voor te gee om misdaad te bekamp,” sluit Broodryk af. “Die land benodig eerder wettige, professionele en verantwoordbare polisiëring. Totdat die regering presies kan verduidelik hoe hierdie misdaadbestryders opgelei, gekeur en bemagtig is, laat hierdie aankondiging meer vrae as antwoorde.”

Soortgelyke plasings

Veiligheid