| | |

FEIT: Peperduur NGV gaan middelklas se sak behoorlik skud

Die regering se plan om oor die volgende 15 jaar sowat R458 miljard in te samel om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te finansier, word steeds met mening voortgesit. Dit ten spyte daarvan dat AfriForum en verskeie ander belanghebbendes al duidelik daarop gewys het dat die implementering van NGV nie net vir die land onbekostigbaar is nie, maar ook ’n reuse- finansiële impak op die middelklas sal hê.

Die Departement van Gesondheid beoog om die geld wat vir die finansiering van NGV benodig word, op veral vier maniere te bekom – maniere wat in byna elke opsig die belastingbetalers se sak gaan skud.

Só lyk die Departement van Gesondheid se NGV-finansieringsplan

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van Gesondheid wat die NGV dryf, het in Oktober 2025 voor die parlement se staande komitee oor begrotings sy departement se NGV-finansieringsplan voorgelê. Volgens dié plan hoop die departement om NGV op hoofsaaklik vier maniere te finansier:

  1. Die afskaffing van belastingkrediete vir persone met ’n inkomste van meer as R700 000 per jaar. Dié krediete sal geleidelik uitfaseer word en na die NGV-fonds herlei word. Die totale waarde van dié krediete beloop tans omtrent R33 miljard per jaar.
  2. ’n Belasting op salarisse wat tussen werknemers en werkgewers gedeel sal word.
  3. Die implementering van bykomende belasting op persoonlike inkomstebelasting.
  4. Geld uit ander regeringsbronne wat nasionale en provinsiale departemente en regeringsagentskappe insluit.

Daar wag egter verskeie uitdagings op die Departement van Gesondheid voordat ’n finansieringsmodel geïmplementeer sal kan word. Die proses is onderhewig aan konsultasie met die Tesourie met wie die departement al voorheen koppe gestamp het oor hoe NGV gefinansier moet word. Die moontlikheid daarvan om die finansiering deur middel van wetgewing in te stel, lyk ook tans onrealisties. Die inkoop van die partye in die regering van nasionale eenheid (RNE)  moet verkry word en met die Demokratiese Alliansie (DA) wat besonder sterk gekant is teen NGV, is die kans op eensgesindheid hieroor skraal.

Vergeet van R458 miljard, dit is hopeloos te min, sê kenners

Om in hierdie stadium ’n akkurate syfer te koppel aan wat die NGV per jaar gaan kos, is bykans onmoontlik. Soveel onduidelikheid bestaan nog oor hoe dit geïmplementeer gaan word en watter dekking gebied sal word. Bedryfskenners meen egter dat die departement se geraamde begroting van R458 miljard nie eens die helfte van een enkele jaar se bedryfskoste sal kan dek nie.

Berekeninge wat van die grootse mediese fondse Discovery Health en Momentum Health gemaak het, toon dat omtrent R1 300 miljard per jaar benodig sal word om die NGV te bedryf.

Berekeninge wat die navorsingsfirma Genesis Analytics gedoen het, toon ook dat die Gesondheidsdepartement hopeloos te idealisties is as hulle reken dat R458 miljard genoeg sal wees vir die implementering van NGV. Volgens hul berekeninge, en met die veronderstelling dat ’n reusebesparing op bedryfskostes gemaak word, sal NGV jaarliks nagenoeg R941 miljard kos om te bedryf. Om boonop dié astronomiese koste te dek, is reële groei van 37% in die bruto binnelandse produk (BBP) nodig. Gemeet aan huidige gemiddelde ekonomiese groeikoers sal dit ’n volle 45 jaar neem vir die BBP om hierdie vlak te bereik, reken dié navorsers. ’n Alternatiewe, maar ewe onhaalbare, finansieringskanaal is die verhoging op BTW, maar om die hemelhoë koste van NGV te dra, sou dié belastingsvorm tot 36% verhoog moet word.

“Dit maak nie saak hoe ’n mens daarna kyk nie, NGV is onbekostigbaar en enige poging om dit te implementeer gaan die belastingbetaler se sak raak. Hetsy dit deur die afskaffing van belastingkrediete is of ’n verhoging in inkomstebelasting of BTW, belastingbetalers gaan moet opdok as NGV deurgedruk word. Om sake te vererger sal die koste van mediese sorg waarskynlik hoër word, terwyl die gehalte daarvan sal afneem,” sê Louis Boshoff, NGV-woordvoerder by AfriForum.

Louis Boshoff, NGV-woordvoerder by AfriForum

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik