AfriForum se Ottosdal-tak maak ’n sigbare verskil in dorp
Die AfriForum-tak in Ottosdal het in Mei voortgegaan om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak deur volhoubare skoonmaak- en instandhoudingsprojekte in die dorp aan te pak.
As deel van AfriForum se Herstel-en-Versnel-projek het die tak reeds meer as ses hektaar gras in Ottosdal gesny. Daarbenewens is sypaadjies skoongemaak en oopgesny, terwyl verskeie leë erwe ook skoongemaak en in stand gehou is.
Die tak bestee tans meer as R2 400 per week om seker te maak dat die dorp se gras in toom gehou word en dat openbare ruimtes netjies vertoon. Volgens die tak dra die sny van leë erwe nie net by tot ’n netjiese omgewing nie, maar verbeter dit ook veiligheid in die gemeenskap deur wegkruipplekke vir misdaad te beperk en brandgevare te verminder.
Verskeie inwoners in die gemeenskap is ook betrokke by hierdie projek en toerusting word aan die tak geleen om meer areas in ’n vinniger tydperk skoon te maak.
“AfriForum se Ottosdal-tak glo dat gemeenskappe self verantwoordelikheid moet neem om hul dorp te verbeter. Teen die tempo van munisipale verval is dit die enigste oplossing om te verhoed dat die dorp totaal agteruitgang. Deur hierdie projekte aan te pak, wil ons nie net ’n netjiese dorp skep nie, maar ook hoop en trots in die gemeenskap herstel,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Die AfriForum-tak in Ottosdal moedig die gemeenskap aan om by projekte betrokke te raak en saam aan ’n beter dorp te werk.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.






