Riool vloei stééds in Mooirivier: AfriForum appelleer teen MRK se sluiting van klagte
Die AfriForum-tak in Potchefstroom het appèl aangeteken teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se besluit om sy ondersoek na die voortslepende rioolbesoedeling van die Mooirivier in Potchefstroom te sluit. Die MRK het AfriForum se klagte, wat in Oktober 2025 ingedien is, op 9 Julie vanjaar “sonder benadeling” gesluit omdat strafregtelike verrigtinge oor beweerde omgewingsbesoedeling tans voor die Potchefstroom-streekhof dien. Kgomotso Kumbe, munisipale bestuurder van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, is in Julie vanjaar gedagvaar op verskeie aanklagtes van beweerde omgewingsbesoedeling.



Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, hou vol dat hoewel AfriForum die MRK se besluit om nie by die strafregtelike proses in te meng nie, respekteer, die strafregtelike proses steeds nie die voortgesette besoedeling van die Mooirivier oplos nie.
“Die vraag is eenvoudig: Vloei onbehandelde riool steeds in die Mooirivier? Die antwoord is ja. ’n Aksieplan en die aanstelling van kontrakteurs beteken nie dat die probleem opgelos is nie. Solank riool steeds in die rivier beland, kan hierdie saak nie as afgehandel beskou word nie,” waarsku Pretorius.
AfriForum het saam met sy appèl onlangse bewyse ingedien wat daarop dui dat rioolbesoedeling steeds voortduur ondanks die munisipaliteit se gerapporteerde regstellende maatreëls. Foto’s van die besoedeling is onder meer naby Ikageng geneem.
AfriForum versoek daarom die MRK om sy besluit te heroorweeg of te wysig en die saak vir beperkte remediërende monitering te behou. Die organisasie vra ook dat die kommissie dringend ’n terreininspeksie doen; AfriForum by gesprekke met die provinsiale en nasionale Groen Skerpioene betrek; en die munisipaliteit vereis om ’n gedateerde implementeringsverslag met objektiewe bewys dat die rioolstortings gestaak is, voor te lê.
Die MRK erken in sy brief aan AfriForum dat rioolstortings in Noordwes steeds kommer wek. Die kommissie voer voorts aan dat dit reeds die provinsiale en nasionale Groen Skerpioene genader het oor sistemiese rioolbesoedelingsprobleme in onder meer die JB Marks-munisipaliteit.
Volgens Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, behoort die staking van die besoedeling in die Mooirivier geprioritiseer te word. “Die strafregtelike proses moet sy gang gaan, maar die Mooirivier kan nie wag vir ’n hofsaak om afgehandel te word voordat die besoedeling gestop word nie. Inwoners se grondwetlike reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie, moet nou beskerm word,” sluit hy af.
Raak vandag nog betrokke
Raak vandag nog betrokke by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag en help om jou omgewing skoon en veilig te hou. Kontak Douglas Bourn (083 232 1020) vir ’n kwotasie om van die Potchefstroom-buurtspan se uiteenlopende dienste gebruik te maak, en Cornelia Blignaut (073 390 4133) om by die buurtwag aan te sluit.



