Wysigingswetsontwerp op Waterdienste: AfriForum waarsku gesentraliseerde beheer sal nie krisis oplos nie
AfriForum het formele kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste by die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie, ingedien. AfriForum verwelkom sekere bepalings wat daarop gemik is om aanspreeklikheid te versterk – veral persoonlike aanspreeklikheid, verbeterde afdwingingsmeganismes en sommige regeringshervormings – maar waarsku dat die wetsontwerp in sy huidige vorm, die strukturele swakhede agter die land se waterkrisis kan verskans eerder as om dit op te los.
AfriForum voer aan dat die krisis met waterdienste nie hoofsaaklik veroorsaak word deur ’n gebrek aan wetgewing nie, maar deur institusionele mislukkings, gepolitiseerde tegniese aanstellings, verswakte toesig, onvoldoende afdwinging en dalende professionele kapasiteit. Die voortdurende realiteite van mislukkings met afvalwaterbehandelings, rioolbesoedeling en ernstige bedreigings vir watergehalte, onderstreep sistemiese operasionele ineenstorting wat wetgewende hervorming alleen nie kan regstel nie. Institusionele onafhanklikheid, bevoegdheid en konsekwente verantwoordbaarheid is ook nodig vir wetgewende hervorming om suksesvol te wees.
“Ons het reeds wette wat pligte en standaarde voorskryf. Daar ontbreek egter professionele kapasiteit, onafhanklike oorsig en deeglike, deurlopende afdwinging. Sonder die nodige voorsorgmaatreëls kan nuwe magte lei tot sentralisasie en politieke inmenging in plaas van verbeterde dienslewering,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum doen ’n beroep op die portefeuljekomitee om die wetsontwerp te verfyn deur institusionele onafhanklikheid te versterk, tegniese bevoegdheid te prioritiseer, prosedurele waarborge vir intervensies en afdwinging te verduidelik, breër deelname aan dienslewering moontlik te maak om sodoende duursame sektorherstel te ondersteun en meer privaatsektorbetrokkenheid en deelname aan dienslewering moontlik te maak.



