AfriForum en kie begin hofstryd teen onteiening sonder vergoeding
AfriForum en ander partye se langverwagte hofstryd om die grondwetlikheid van die Onteieningswet te betwis, het vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad begin. Vandeesweek se hofverrigtinge sal bepaal op watter wyse die verskillende partye en organisasies wat aan die saak wil deelneem, toegelaat sal word om dit te doen en dus wie as amici (vriende van die hof), respondente en applikante gaan deelneem.
Volgens Ernst van Zyl, Hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sal dié hofsaak na verwagting een van die belangrikste van die dekade wees, aangesien die uitslag daarvan die toekoms van die fundamentele reg op privaat eiendom in die land sal bepaal. “Privaat eiendomsreg word op talle fronte meedoënloos aangeval deur magte wat dié reg in Suid-Afrika wil afskaf. AfriForum staan egter bankvas teen dié agente van chaos,” verduidelik Van Zyl.
“President Cyril Ramaphosa het in ’n toespraak wat hy in Augustus verlede jaar in Zimbabwe gelewer het, Robert Mugabe, voormalige Zimbabwiese president, se vernietigende beleid van grondhervorming geprys en as ‘ambisieus’ en ‘noodsaaklik’ bestempel. Ons glo dus die ANC wanneer hulle sê hul doel met die Onteieningswet is om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, soortgelyk aan dit wat ons in Zimbabwe gesien het,” sluit Van Zyl af.
Lede van die publiek kan saam met AfriForum teen onteiening sonder vergoeding staan. Besoek www.onteiening.co.za vir meer inligting.



