Semi-Soet – die musiekblyspel is gesinsvermaak wat soet op die sak val
Almal is dit eens dat vermaak die eerste plek is waar mense aan hul beplande uitgawes sny wanneer die ekonomie knyp, veral wanneer daar vir ’n hele gesin betaal moet word. Met die nuus dat Semi-Soet – die musiekblyspel in September ’n terugkeer na die verhoog maak, is dit egter nie nodig om dié begrotingskategorie te sny nie. Daar is nou ’n bekostigbare vermaaklikheidsopsie wat iets vir almal bied: ’n gesonde dosis humor, oorspronklike musiek, pragtige romanse en ’n aansteeklike energie.
AfriForum en Inhoud Huis Musiek, met die ondersteuning van RSG en kykNET, bring vir Bobby van Jaarsveld (en sy Speedo) en Anel Alexander terug in hul rolle as onderskeidelik JP en Jaci in die nuwe speelvak van Semi-Soet – die musiekblyspel. Dié keer word die produksie op een van Suid-Afrika se grootste verhoë aangebied: die Teatro by Montecasino.
Toe die produksie in 2025 by AfriForum Teater vir agt weke lank aand ná aand uitverkoop het, was dit duidelik dat dié produksie iets spesiaals is. Teatergangers kon nie uitgepraat raak oor hoe hierdie unieke produksie hul laat skaterlag het nie. Juis daarom is die bekende teater- en musiekname, choreograwe en bekroonde produksiespan wat gestalte gee aan Semi-Soet – die musiekblyspel, gereed om gehore weer die kans te gee om die produksie saam met hul geliefdes te geniet.
Volgens Anel Alexander, wat in die rolprent én die musiekblyspel die rol van Jaci van Jaarsveld vertolk, is dít waaroor teater vir haar gaan – om mense ’n blaaskans van hul stresvolle lewens te bied. “’n Oomblik waar jy saam met jou vriende en familie kan saamkom en só kan lag dat jy huil.”
Ongeag of jy die rolprent al tien keer gesien het, die produksie tydens sy 2025-speelvak beleef het of dalk nou vir die eerste keer van Semi-Soet – die musiekblyspel gehoor het, die treffende musiek deur Johan Voster en Jacomien de Wet, tesame met die briljante vertolking van geliefde karakters deur ’n hele nuwe generasie akteurs, beteken dat jy nie hierdie speelvak wil misloop nie.
Om toe te sien dat dié produksie deur die hele gesin geniet kan word, word ’n spesiale aanbieding beskikbaar gestel vir alle vertonings wat gedurende die week plaasvind. Al die kaartjies in die ouditorium sal teen slegs R250 per persoon verkoop word. Kaartjies kan gekoop word by www.semisoetmusiekblyspel.co.za. Maak seker jy bespreek vroeg en maak van Semi-Soet – die musiekblyspel ’n onvergeetlike gesinsuitstappie waar almal kan ontspan, lag en van die alledaagse stres vergeet.
Die besonderhede van die nuwe speelvak is soos volg:
Datum: Vanaf 4 September 2026
Plek: Teatro by Montecasino
Kaartjies: Te koop by www.semisoetmusiekblyspel.co.za
Spesiale aanbieding: Alle ouditorium-kaartjies vir weeksaande is vanaf vandag 4 Augustus teen slegs R250 per persoon beskikbaar.



