| | |

Noga’s Post gemeenskapsgroenteprojek vier  – én deel – goeie oes

Klankgreep: Barend Uys (Afrikaans)
Klankgreep: Barend Uys (Engels)
Klankgreep: Leon Lourens (Afrikaans)
Klankgreep: Leon Lourens (Engels)
Klankgreep: Kgosi Gaboilelwe Moroka (Engels)

Die Noga’s Post gemeenskapsgroenteprojek vier ’n suksesvolle Februarie-oes met 180 kg aartappels wat plaaslik verkoop is, terwyl 40 bossies spinasie aan die M. Malikoe Skoolondersteuningsprojek verskaf is. ’n Verdere ongeveer 100 kg uie is geoes en sal verkoop word sodra dit verpak is. Die projekspan het ook die voorreg gehad om aartappels aan bejaarde gemeenskapslede en gesinne in nood te skenk en is opgewonde oor die vooruitsig om 40 bossies spinasie twee keer per week aan die skoolondersteuningsprojek te verskaf. 

Die projek is ’n gesamentlike inisiatief van die Noga’s Post gemeenskap, kgosi Gaboilelwe Moroka, AfriForum en Saai wat sedert 2020 saamwerk om voedselsekerheid en ekonomiese geleenthede binne die Noga’s Post nedersetting te verbeter. AfriForum en Saai is by die projek betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative MSW (RRAIN), wat ondersteuning bied met beplanning, mentorskap, en insette.

“Landbou bly sentraal tot die verbetering van die sosio-ekonomiese werklikhede van ons landelike gemeenskap. Ek is trots om te sien hoe inwoners verantwoordelikheid aanvaar, doeltreffend saamwerk en volhoubare voortbestaan met vasberadenheid bou. Dit is inspirerend hoe hulle gereageer het op aanmoediging om geleenthede aan te gryp, meer selfonderhoudend te word en hul toekoms in hul eie hande te neem,” sê kgosi Gaboilelwe Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka kultuurgemeenskap.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum,  word gesonde, selfstandige gemeenskappe nie deur beloftes nie, maar deur dade gebou. “Dit is vir AfriForum ’n voorreg om hierdie hardwerkende gemeenskapslede te ondersteun en om te beleef hoe hulle die vrug van hul eie arbeid geniet. Ons hoop dat die volgehoue vordering van hierdie projek ander sal inspireer om ook by ons gesamentlike poging betrokke te raak. Inisiatiewe soos hierdie, wat voetsoolvlak impak maak, is noodsaaklik om die voorspoedige en vreedsame naasbestaan van die verskillende kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sê Uys.

“Hierdie gemeenskapslede wys wat gedoen kan word deur toewyding en deursettingsvermoë. Dit is verblydend om te sien dat daar aan die einde van elke plantsiklus nie net kos op die tafel is nie, maar ook ’n surplus wat verkoop kan word. Die ontwikkeling van mense en die bereiking van volhoubaarheid en winsgewendheid neem tyd. Saai is trots om deel van hierdie suksesverhaal te wees,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners