Wynland-tak bied veldbrandopleiding aan by Hoёr Landbouskool Boland



AfriForum se Wynland-tak het op 21 September veldbrandopleiding aan ’n groep graad 11-leerders by Hoёr Landbouskool Boland in die Paarl aangebied.
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, het die opleiding aangebied, wat ’n teoretiese én praktiese komponent ingesluit het. Die leerders het meer geleer oor verskillende soorte brande, hoe brande ontwikkel en hoe ’n vuur optree en versprei, en hoe om dit so veilig as moontlik te blus.
Tydens die praktiese demonstrasie het die leerders ’n kleinskaalse brand op ’n tafel nageboots. Hooi bale is ook aan die brand gesteek sodat die brandweer kon demonstreer hoe om dit te blus.
Die leerders het ook die geleentheid gehad om brande met behulp van die tien brandplakke wat AfriForum se Wynland-tak aan die skool geskenk het, dood te slaan. ’n Brandplak is ’n lang hadvatsel met ’n plat, buigbare stuk rubber aan die voorkant wat veral gebruik word om gras- en veldbrande dood te slaan en te smoor. Ignatius van Rensburg, voorsitter van AfriForum se Wynland-tak, het die brandplakke aan die skool oorhandig.
Volgens Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het hierdie opleiding ’n uitkring effek. “Benewens die feit dat hierdie opleiding die leerders help om verantwoordelik op te tree wanneer ’n brand ontstaan, help dit ook om kennis wyer te versprei. Hierdie leerders gaan huis toe en vertel hulle sibbe, hul ouers en ander vriende van die interessante dinge wat hulle geleer het en só versprei die kennis oor verantwoordelike brandbeheer dan ook.”
Skole baat by opleiding wat leerders se praktiese vaardighede en veiligheidsbewustheid versterk. Wanneer leerders weet hoe om ’n brand te benader en wanneer om die brandweer of ander nooddiens te ontbied, kan hulle help om risiko’s te beperk en help om ’n veiliger skoolomgewing te bevorder. Die opleiding skep ook ’n geleentheid vir samewerking tussen die skool, die brandweer en plaaslike organisasies.
Sulke inisiatiewe versterk gemeenskapsbetrokkenheid en deur kennis en toerusting beskikbaar te stel, dra AfriForum se Wynland-tak by tot ’n gemeenskap wat beter voorbereid is om brandgevare te voorkom en daarop te reageer.



