AfriForum-vullisoudit: Geringe verbetering kan nie wydverspreide munisipale mislukkings verbloem nie
AfriForum se Munisipale Vullisterreinouditverslag vir 2026 toon ’n geringe verbetering in vullisterreinbestuur op nasionale vlak, maar 77% van die terreine wat geoudit is, voldoen steeds nie aan die minimum drempel vir verantwoordelike afvalbestuur nie. Dié verslag is gister (1 Oktober 2026) aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria oorhandig.
AfriForum het gedurende die eerste kwartaal van 2026 altesaam 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit. Slegs 30 terreine, oftewel 23%, het aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen en die oudit geslaag. Dit is ’n geringe verbetering teenoor die slaagsyfer van 22% wat in 2025 aangeteken is en die hoogste nasionale slaagsyfer sedert 2022. Die nasionale gemiddelde nakomingspunt het ook van 42% in 2025 tot 47% in 2026 verbeter.

Die verbetering is egter steeds beperk en dui nog nie op ’n wesenlike verbetering in die toestand van munisipale vullisterreinbestuur nie. Meer as driekwart van die geouditeerde terreine het steeds tekortkominge in operasionele bestuur, infrastruktuur of nakoming van basiese vereistes getoon. Dié probleme kom boonop oor die hele land voor.
Die Wes-Kaap het in 2026 die beste presteer. Veertien van die 26 terreine wat in die provinsie geoudit is, het die oudit geslaag, wat ’n slaagsyfer van 54% verteenwoordig, terwyl die gemiddelde nakomingspunt op 66% gebly het. Dit was die enigste provinsie waar meer as die helfte van die geouditeerde terreine die oudit geslaag het.
KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes het noemenswaardige verbeterings aangeteken, terwyl Mpumalanga sy geleidelike opwaartse tendens voortgesit het.
Gauteng het egter ’n beduidende terugslag beleef. Die provinsie se gemiddelde nakomingspunt het van 84% in 2025 tot 64% in 2026 gedaal, terwyl die slaagsyfer van 56% tot 23% afgeneem het.
Die Noord-Kaap en Vrystaat het die swakste presteer, met gemiddelde nakomingspunte van onderskeidelik slegs 14% en 19%. Geen van die ses terreine wat in die Noord-Kaap geoudit is, het die oudit geslaag nie, terwyl slegs een van die 17 terreine in die Vrystaat geslaag het.
Die oudit het ook ernstige leemtes uitgewys in basiese inligting wat nodig is om vullisterreinkapasiteit te bestuur. By minstens 53 terreine kon die oorblywende lewensduur nie bepaal word nie, terwyl deelnemers in minstens 65 gevalle nie kon vasstel wanneer die laaste opname van die terrein se oorblywende kapasiteit gedoen is nie. Volgens AfriForum bemoeilik die tekort aan inligting munisipaliteite se vermoë om vir toekomstige afvalstortingsbehoeftes te beplan voordat bestaande vullisterreinkapasiteit uitgeput raak.
Die bepaling van kapasiteit word toenemend belangrik namate Suid-Afrika meer afval genereer, terwyl minder daarvan van vullisterreine weggelei word. Volgens die DFFE se Konsep- Nasionale Afvalbestuurstrategie vir 2026 genereer Suid-Afrika jaarliks ongeveer 122 miljoen ton afval, waarvan slegs sowat 10% van vullisterreine weggelei word. In 2018 is ongeveer 107 miljoen ton afval gegenereer en sowat 35% daarvan van vullisterreine weggelei. Suid-Afrika genereer dus meer afval, terwyl ’n groter deel daarvan op vullisterreine gestort word.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, kan die land nie bekostig om tevrede te wees met ’n slaagsyfer van slegs 23% bloot omdat dit ’n geringe verbetering verteenwoordig nie. “Die resultate toon dat verantwoordelike vullisterreinbestuur haalbaar is; basiese bestuur, instandhouding en beplanning skiet egter steeds tekort by te veel munisipale terreine. Namate meer afval gegenereer en minder daarvan van vullisterreine weggelei word, word die ruimte vir swak vullisterreinbestuur al kleiner,” verduidelik hy.
AfriForum is positief oor die geleentheid om die verslag aan die DFFE te oorhandig en sal voortgaan om met die regering in gesprek te tree oor die rol wat die burgerlike samelewing kan speel om afvalbestuur te moniteer en aanspreeklikheid te bevorder.
“Ons is positief daaroor dat die departement ons ontvang het en dat hierdie gesprek oor verantwoordelike vullisterreinbestuur voortgesit word. Die burgerlike samelewing het ’n belangrike waghondrol om aanspreeklikheid te bevorder, nie net wat plaaslike regerings se bestuur van vullisterreine betref nie, maar ook rakende die breër afvalwaardeketting. Ons doel met hierdie projek is nie bloot om mislukkings uit te wys nie, maar om betroubare inligting beskikbaar te stel, erkenning te gee waar bestuur wel op standaard is en praktiese verbetering te help bevorder waar dit nie die geval is nie,” sê De Vaal.
AfriForum sal voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.



