Bloemfontein-buurtspan pak vullis in die Rosestad met behulp van oranje vragmotor


AfriForum se Bloemfontein-buurtspan skroom nie om moue op te rol en toe te sien dat daar sommer vinnig klaar gespeel word met vullis in dié stad nie. Namate die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se dienslewering agteruitgaan het die Bloemfontein-buurtspan ingetree en dit lyk of hierdie verantwoordelikheid hulle soos ’n handskoen pas.
Onder die leiding van hul voorman, Robert Myburgh, pak MC Jacobs, JP Bekker en Markus Pretorius daagliks die uitdagings wat Bloemfonteiners in die gesig staar. Dit sluit in om gras te sny, parkies netjies te maak, slaggate te herstel, maar deesdae meer as enigiets, om seker te maak dat die inwoners van Bloemfontein ’n vullisverwyderingsdiens het waarop hulle kan staatmaak.
AfriForum se Bloemfontein-strukture het vroeg in 2025 ’n nuwe oranje vullisverwyderingsvragmotor aangeskaf en sedertdien vul AfriForum se vullisverwyderingsdiens meer en meer die leemte wat deur die sukkelende metro gelaat word.
Dié dinamiese viermanspan lê weekliks tussen 500 km en 700 km af om sowat 600 sakke vullis by minstens 300 eiendomme in dié metro te verwyder. Dit kom maandeliks neer op ongeveer 50 ton vullis wat suksesvol verwyder word.
Volgens Marius Dobson, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, gaan dit vir hierdie span oor meer as net ’n werk, dit gaan oor diensbaarheid en trots vir die plek waar hulle woon. “Hierdie span het een doel voor oë en dit is om Bloemfontein elke week ’n bietjie skoner en netjieser te maak. Hulle is nie praters nie, maar doeners en hulle help elke dag om stuk vir stuk te help bou aan ’n beter Bloemfontein.
Bloemfonteiners glimlag ook van oor tot oor wanneer hulle gevra word oor dié buurtspan. Duncker Hohls, ’n inwoner van die Rosestad, besing dié span se lof in ’n boodskap aan Dobson: “Baie dankie vir die buurtspan. Hulle het ’n baie goeie werk gedoen en is baie vriendelik. Ek wou maar net baie dankie sê.”



Terwyl die Bloemfontein-buurtspan hard werk om inwoners se vullis te verwyder, is AfriForum ook steeds in ’n uitgerekte stryd met die Mangaung-metro gewikkel om te verhoed dat inwoners aanhou betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Meer as 700 mense het in Mei 2025 kwytskeldingsaansoeke by die metro ingedien sodat die tarief wat gehef word vir munisipale vullisverwydering, van hul rekeninge verwyder word.
Volgens AfriForum behoort inwoners wat van privaat vullisverwyderingsdienste, soos dié van AfriForum, gebruik maak nie gedwing te word om vir die metro se onbetroubare vullisverwydering te betaal nie. Die organisasie wag tans op ’n hofdatum vir dié saak.



