| |

Dis ’n ramp: Dele van Govan Mbeki-munisipaliteit ná meer as ’n week stééds sonder water, reservoirs op 0%

Raadop inwoners wie se krane in dele van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit meer as ’n week gelede reeds leeggeloop het weens beplande instandhouding deur Rand Water, stroom tans na AfriForum se noodwaterpunt in Bethal. AfriForum het sedert Woensdag in samewerking met plaaslike boere reeds meer as 200 000 liter water by sy noodwaterpunt op dié dorp beskikbaar gestel aan inwoners. Die burgerregteorganisasie hou vol dat die munisipaliteit se gebeurlikheidsbeplanning vir dié beplande instandhouding ’n klaaglike mislukking is, en waarsku dat die feit dat alle dorpe in dié munisipaliteit steeds sonder water gelaat is, afstuur op ’n humanitêre ramp wat voorkom kon gewees het.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het die munisipaliteit nie genoegsame voorbereiding getref om die impak op sy inwoners te beperk nie. Nhlakanipho Zuma, burgemeester van die Govan Mbeki-munisipaliteit, het op 15 Julie tydens ’n mediakonferensie verklaar dat die munisipaliteit reeds etlike maande gelede gewaarsku is dat instandhouding op 17 Julie gaan afskop wat wateronderbrekings van hoogstens 72 uur tot gevolg gaan hê. Hy het voorts verklaar dat die volle herstel van watertoevoer in sommige dele van die munisipaliteit tot 14 dae kan neem.

“Ondanks hierdie voorafkennisgewing, kon die munisipaliteit stééds nie genoegsame voorbereidings tref om hierdie ramp af te weer nie,” verduidelik Bekker. “Om boonop inwoners net meer as twee dae vooraf in kennis te stel van hierdie algehele opskorting van watertoevoer wat in sommige dele tot twee weke kan duur, is onaanvaarbaar.”  

Bekker benadruk voorts dat die ontoereikende voorsiening van water na die munisipaliteit boonop reeds maande lank voortwoed en nou ’n patroon vorm. Inwoners van dorpe in dié munisipaliteit – insluitend onder meer Bethal, Secunda, Evander, Trichard en Kinross – word telkens weke lank sonder genoegsame water gelaat wanneer instandhouding of herstelwerk gedoen moet word.

“Inwoners eis antwoorde, maar te midde van ’n falende munisipaliteit wat geen duidelike antwoorde bied nie, word inwoners aan hul eie genade oorgelaat. Die munisipaliteit verwys telkens navrae oor watervoorsiening na Rand Water, terwyl dié inwoners weer terugverwys na die munisipaliteit. Vertroue in die munisipaliteit se vermoë om na inwoners se belange om te sien, het lank reeds ’n ongekende laagtepunt bereik,” verduidelik Bekker.

Intussen blyk dit dat die watertoevoer na veral Bethal nie binnekort herstel sal word nie. Luidens ’n mediaverklaring wat die munisipaliteit gister op sosiale media gepubliseer het, is al vier reservoirs in streek 1 (wat water voorsien aan Bethal en Emzinoni) steeds dolleeg. In streek 2 (Trichardt, Secunda, Evander, Kinross, Leandra en Eendraght) is die Kinross-reservoir wel op 90%-kapasiteit, maar water kan weens elektriese instandhouding hiervandaan gepomp word nie. Ander reservoirs in dié streek staan op tussen 0% en 30% van kapasiteit; terwyl twee van die drie reservoirs in streek 3 (Embalenhle en Charl Cilliers) op 0%-kapasiteit staan, en die derde skaars 30% vol is.

AfriForum-regsaksie duur voort

AfriForum het reeds regsaksie teen RandWater van stapel gestuur nadat dié watervoorsiener die munisipaliteit se watertoevoer vanaf 2019, weens die munisipaliteit se wanbetaling, gesny het.

“Regsaksies is noodsaaklik, maar bring nie onmiddellike verligting wat inwoners so broodnodig het nie,” verduidelik Bekker. “Die langdurige probleme met watervoorsiening laat inwoners nou tereg vra of die herhaaldelike onderhoud nie net as verskoning gebruik word vir inwoners se droë krane nie.”

“’n Algehele ineenstorting van die waternetwerk in dié munisipaliteit is nou ’n werklikheid. Dit gebeur bykans elke maand. Daar is eenvoudig nie meer vermoë om water op te gaar nie omdat voorsiening maand na maand swakker word en die verbruik aanhou toeneem. Inwoners en besighede word genoodsaak om self oplossings te skep, terwyl staatsorgane oor-en-weer baklei, blaam verskuif en hofprosesse vertraag,” sê Bekker.

Hulp nou noodsaaklik – raak betrokke

Waar die vermoë bestaan het AfriForum reeds op voetsoolvlak noodwaterpunte opgerig om noodsaaklike verligting te midde van watertekorte te bring. Op Bethal koördineer AfriForum die aflewering van water, terwyl plaaslike boere die water gratis aflaai by noodwaterpunte, skole, tehuise en ander instansies wat noodsaaklike dienste verrig.

AfriForum doen ’n beroep op boere van ander dorpe in die Govan Mbeki-munisipaliteit om ook betrokke te raak om noodverligting ook na ander dele van die gebied uit te brei. Kontak Bekker (084 905 6415) vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf