AfriForum se massapatrollie wys waarde van buurtwagte aan Oos-Rand
AfriForum se buurtwagte in die Oos-Rand het die afgelope naweek met groot sukses aan AfriForum se massapatrollie deelgeneem. Tydens die patrollie het buurtwaglede meer as 3 000 km gepatrolleer, met die inhegtenisneming van ‘n beweerde dronkbestuurder gehelp en op dwelms beslaggelê terwyl hulle nou saam met veiligheidsvennote gewerk het.
Die landwye inisiatief het ten doel om sigbare veiligheid in gemeenskappe te bevorder, misdadigers af te skrik en die omgewing vir inwoners, ondernemings en padgebruikers te beveilig. Die sukses van die Oos-Rand se massapatrollie is te danke aan toegewyde vrywilligers wat hul eie tyd, voertuie en hulpbronne beskikbaar gestel het om hul gemeenskappe te dien.
Van die belangrikste resultate sluit in:
- Alberton en Germiston: 37 deelnemers het meer as 2 300 km gepatrolleer, 180 ure op die pad deurgebring en ’n operasionele simulasie saam met verskeie veiligheidsvennote suksesvol uitgevoer.
- Kempton Park: 18 buurtwaglede het tydens die patrollie saam met die polisie in Sebenza gewerk om ’n motoris vir beweerde dronkbestuur vas te trek.
- Springs: Die buurtwag het met sewe voertuie meer as 1 081 km gepatrolleer en op dwelms, wat by haweloses aangetref is, gekonfiskeer.
- Brakpan: 21 voertuie is met die ondersteuning van verskeie veiligheidsvennote ontplooi om patrollies te ry.
- Boksburg: 40 buurtwaglede het saam met sewe verskillende veiligheidsdienste ’n sterk sigbare teenwoordigheid in die gebied gehandhaaf.



Volgens Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, lê die ware waarde van die massapatrollie nie net in die suksesverhale van die aand nie, maar in die bereidwilligheid van gemeenskappe om saam verantwoordelikheid vir hul veiligheid te aanvaar.
“AfriForum rus buurtwagte met deeglike opleiding, gestandaardiseerde operasionele prosedures en deurlopende ondersteuning toe sodat hulle wettig, professioneel en doeltreffend, in noue samewerking met die polisie en ander veiligheidsvennote kan optree. Tog is dit uiteindelik die toewyding van ons vrywilligers wat die verskil maak. Wanneer gemeenskappe saam verantwoordelikheid aanvaar, bou ons nie net veiliger woonbuurte nie, maar ook sterker gemeenskappe,” sê Gerber.
“Die resultate van die massapatrollie bewys dat goed opgeleide vrywilligers en sterk samewerking met veiligheidsvennote ’n tasbare bydrae tot gemeenskapsveiligheid kan lewer. AfriForum bly daartoe verbind om hierdie veiligheidstrukture verder uit te bou en te ondersteun.”



