Waar is die CPN-verslag? AfriForum eis antwoorde van SAPD
Meer as 13 jaar en vyf nasionale polisiekommissarisse later is die aanbevelings van CPN Forensic and Accounting Services se ondersoekverslag na bedrog, korrupsie en wanbestuur in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se afdeling vir forensiese dienste steeds nie geïmplementeer nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is nou genader om dit op te volg. Die eenheid verteenwoordig die drie fluitjieblasers wie se bewerings tot die ondersoek gelei het en wat sedertdien glo geviktimiseer is.
Die verslag is sedert 2013 aan opeenvolgende nasionale polisiekommissarisse, asook aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie voorgelê. Meer onlangs het die fluitjieblasers voor die Ad Hoc-komitee getuig wat die bewerings van luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi ondersoek. Die eenheid verteenwoordig die voormalige polisiebeampte Edwin Malatjie, asook ander dienende lede, en het aan die nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, geskryf.
Die drie fluitjieblasers beweer dat, benewens die polisiebestuur se versuim om die verslag se aanbevelings te implementeer, ’n afsonderlike interne verslag vrygestel is wat daarop dui dat die oorspronklike CPN-verslag nie opgespoor kan word nie. Die eenheid het hierdie korrespondensie onder oë gehad.
Dié interne verslag, gedateer 7 November 2025 wat deur generaal-majoor Mark Hankel saamgestel is, beskryf sy onsuksesvolle pogings om die CPN-verslag binne die SAPD se strukture op te spoor. Dit bevat ook sy eie aanbevelings wat uit die ondersoek voortspruit en wat klaarblyklik ook nie geïmplementeer is nie. Die eenheid meen die volgehoue versuim om uitvoering te gee aan die aanbevelings van albei ondersoeke laat ernstige vrae ontstaan oor aanspreeklikheid binne die SAPD-bestuur. Dit kan boonop op pligsversuim neerkom.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit blyk nóg ’n voorbeeld te wees van staatsgeld wat aan forensiese ondersoeke bestee en bevindings wat geïgnoreer is bloot om die indruk te skep dat bewerings van onbehoorlike optrede ernstig opgeneem word. “Hierdie optrede behoort ondersoek te word en as verkwistende besteding aangemeld te word. In hierdie geval word dit vererger deur die feit dat die CPN-verslag skynbaar onmoontlik is om by die SAPD se hoofkantoor op te spoor.
“Ons het kennis geneem van die teenbewerings en aanbevelings teen die gegriefde lede, maar doen ’n beroep op die polisiebestuur om die stroom negatiewe persepsies wat uit die Madlanga-kommissie voortspruit, te stuit deur hul plig na te kom. Die omstandighede wat daartoe gelei het dat ons lede en voormalige lede van die SAPD verteenwoordig, kan slegs verstaan word teen die agtergrond van die polisiebestuur se verberging van die CPN-verslag en sy doelbewuste versuim om op te tree teen die bewerings wat deur CPN Forensic Services en generaal-majoor Hankel ondersoek en verslag oor gedoen is,” sê Nel.
Die eenheid het die SAPD-bestuur versoek om die fluitjieblasers in te lig oor die status van die CPN-verslag en oor die proses vir die implementering van beide die CPN en Hankel se aanbevelings.



