| | |

Mpumalanga-protospanne skerp vaardighede op tydens scenario inoefening

AfriForum se protospanne in Mpumalanga het die afgelope naweek (28 en 29 Augustus) opleiding ondergaan waartydens hulle ’n scenario ontvang het en hul kennis moes inspan om die beste eindresultaat te ontvang. Die opleiding het op ’n verlate plaas buite Chrissiesmeer plaasgevind en protospanlede van onder meer Delmas, Middelburg, Standerton, Piet Retief, Machadodorp en Nelspruit het deelgeneem.

Gedurende hierdie scenario inoefening het lede in hul volle taktiese drag kompleet met koeëlvaste baadjies, nagsigtoerusting en handradio’s deelgeneem om ware omstandighede so na as moontlik na te boots.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Mpumalanga en Limpopo, was die doel van hierdie scenario inoefening om opleiding minder staties te maak en lede ’n geleentheid te gee om te reageer soos wat hulle sou indien ’n soortgelyke situasie werklik sou plaasvind.

“Gewoonlik vind hierdie tipe opleiding met statiese teikens plaas wat nie terugskiet nie, maar gedurende hierdie inoefening het ons die protospanlede in twee groepe verdeel en met Airsoft-gewere toegerus waarmee hulle op mekaar kon skiet. Dit het dus die gevoel van werklike omstandighede geskep sonder die risiko’s wat uiteraard daarmee saamgaan,” verduidelik Bekker.

Die protospan-gilde is ook gedurende hierdie opleiding op die been gebring om protospanne in staat te stel om meer opleidingsgeleenthede soos hierdie te kan reël. Die gilde sal aan verskillende protospanne die geleentheid gee om ’n scenario op te stel, die ligging te kies en gasheer te speel vir ander protospanne.

“Hierdie tipe oefeninge moet gereeld plaasvind sodat protospanlede in voeling kan bly met hul opleiding en nie hul vaardighede verleer nie. Dit is die ideale omstandighede om hul kennis en vaardighede geslyp te hou en ons sien uit na die volgende geleentheid,” sluit Bekker af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid