|

Kempton Park-tak bied opleiding aan 20 patrolleerders vir veiliger gemeenskap

AfriForum se Kempton Park-tak het in Augustus ’n omvattende opleidingsgeleentheid vir patrolleerders aangebied met die doel om vrywilligers in Kempton Park beter toe te rus om ‘n verantwoordelike en effektiewe rol in gemeenskapsveiligheid te speel.

Die opleiding het oor twee Saterdae gestrek en is by Elim Kliniek in Kempton Park aangebied. Altesaam 20 patrolleerders het deelgeneem, waarvan tien AfriForum-lede is, vyf lede van die Norkem Park Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en vyf lede van die Bedfordview GPF.

Die opleiding het onder meer bestaan uit die regsaspekte wat patrolleerders van moet kennis dra en toneelhantering.

AfriForum hou vol dat dit belangrik is dat gemeenskapslede wat by patrollies betrokke is, nie slegs gemotiveerd is om hul gemeenskap te beveilig nie, maar ook oor die nodige kennis en vaardighede beskik om binne die reg op te tree en situasies verantwoordelik te hanteer.

“Gemeenskapsveiligheid begin by mense wat bereid is om op te staan en ’n verskil te maak. Deur behoorlike opleiding te verskaf, verseker ons dat ons patrolleerders beter voorbereid is om tydens patrollies op te tree, situasies reg te hanteer en binne die raamwerk van die wet te funksioneer,” sê Wouter Heyneke, bestuurslid van AfriForum se Kempton Park-tak.

Die tak beskou die samewerking tussen AfriForum, die Norkem Park GPF en Bedfordview GPF as ’n belangrike voorbeeld van hoe gemeenskapsorganisasies en inwoners kragte kan saamsnoer om plaaslike veiligheid te bevorder. Dit was ook besonders dat drie lede van Kempton Park se Jeug-tak die opleiding bygewoon het. Die betrokkenheid van jongmense by gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe wys dat die volgende generasie bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en aktief tot hul gemeenskappe by te dra.

“Ons wil graag ook in die besonder dankie sê vir Jan Vermaak, Kapt. F. de Villiers, asook Roger Weimann, direkteur van Elim Kliniek, en Phineas Ralebiti van Elim Kliniek vir hul ondersteuning en bydrae tot die sukses van die opleiding,” voeg Heyneke by.

AfriForum se Kempton Park-tak sal voortgaan om opleidings- en veiligheidsinisiatiewe te ondersteun wat inwoners bemagtig om op ’n verantwoordelike wyse ’n aktiewe rol in hul gemeenskap se veiligheid te speel.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf