Boere se hulpkrete oor bek-en-klouseer kan nie afgemaak word – AfriForum
’n Uitgelekte e-pos waarin ’n noodroep oor die bek-en-klouseerkrisis glo deur die stafhoof van die minister van Landbou as ’n grap afmaak word, is volgens AfriForum ’n klap in die gesig van elke boer wat tans deur dié krisis geraak word. Dié voorval dien as nog ’n bewys waarom boere vertroue in die departement se hantering van die krisis verloor en toenemend daarop aandring om by die inentingstrategie betrek te word.
“Terwyl boere probeer om hul kuddes te red en hul lewensbestaan te beskerm, word hul bekommernisse in die hoogste kringe van die departement afgelag. Dit is onaanvaarbaar, ongevoelig en bevestig die dringende behoefte aan ’n ander benadering in die hantering van bek-en-klouseer,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.
Die stafhoof van minister John Steenhuisen het glo verlede week in ’n e-pos aan die direkteur-generaal en adjunk-direkteur-generaal van Landbou ’n landbougroep se versoek afgelag om by die departement se inentingstrategie betrokke te raak. Die e-pos het sedertdien ’n herrie onder die landbougemeenskap ontketen.
“Boere vra nie vir simpatie nie, maar vir dringende optrede, toegang tot entstowwe, duidelike riglyne, spoedige besluitneming en ruimte vir die privaat sektor om te help. AfriForum eis daarom dat die minister dadelik die privaat sektor, landbougroepe en privaat veeartse volwaardig by die verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe betrek,” sê De Klerk.
AfriForum meen die huidige skade en risiko van herbesmetting kon waarskynlik beperk of selfs voorkom word as die regering van die begin af ruimte gemaak het vir boere, privaat veeartse en die landboubedryf om deel van die oplossing te wees. Die gesentraliseerde benadering wat gevolg is, was te stadig, te rigied en te verwyderd van die werklikheid op plase.
Die departement se monopolie oor die verkryging en verspreiding van entstowwe, tesame met gebrekkige kommunikasie en onduidelike voldoeningsvereistes, plaas verdere druk op boere wat reeds onder geweldige spanning verkeer. Boere kan nie gedwing word om deel te neem aan ’n stelsel waarvan die koste, tydlyne en praktiese implikasies steeds onseker is nie.
“Die tyd vir minagting en gesentraliseerde beheer is verby. Boere se kuddes, lewensbestaan en die land se voedselsekerheid kan nie verder die prys betaal vir ’n staat wat te min luister en te stadig optree nie,” sluit De Klerk af.



