| | |

Naboomspruit-tak gebruik 1.9 ton teer om paaie te herstel voor AVS Bokkieweek

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong het verlede week voortgegaan met herstelwerk aan die dorp se paaie. Die tak het in totaal nagenoeg 1.9 ton teer gebruik om slaggate en beskadigde padoppervlaktes te herstel. Dit het deel gevorm van die tak se deurlopende pogings om die dorp op te knap voor die AVS Bokkieweek in Julie by Hoërskool Hans Strydom plaasvind.

Die herstelwerk het veral gefokus op 7de Straat en 7de Laan. Daar is veral gefokus op die kruising tussen dié twee strate aangesien dit ’n besige area is tussen Laerskool Eugene Marais en die paaie wat na Hoërskool Hans Strydom lei.

Benewens die herstelwerk het die tak ook grond wat deur erosie op die pad gespoel het, losgemaak en van die padoppervlak verwyder.

Volgens AfriForum se Naboomspruit-tak vorm hierdie projek deel van ’n groter gemeenskapsaksie om die dorp netjieser, veiliger en meer toeganklik te maak vir inwoners, skole, besoekers en deelnemers aan die AVS Bokkieweek.

“Die Bokkieweek bring baie mense na die dorp, en dit is belangrik dat die dorp gereed en verwelkomend is. Die Naboomspruit-tak wil nie net probleme uitwys nie, maar self help om praktiese oplossings te bied. Padherstelwerk soos hierdie maak ’n sigbare verskil en wys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan,” sê Andre van der Schyff, tesourier van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Die tak bedank alle lede, vrywilligers en werkers wat by die projek betrokke was en moedig inwoners aan om by plaaslike verbeteringsprojekte betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf