Sonkragheffings word nuwe spaarbussie vir sukkelende munisipaliteite – AfriForum
AfriForum is toenemend bekommerd dat munisipaliteite wat finansieel in die knyp is hulle tot sonkraggebruikers wend as ’n nuwe bron van inkomste, eerder as om die onderliggende oorsake van hul finansiële probleme die hoof te bied.
Vroeër vandeesmaand het AfriForum die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit formeel versoek om duidelikheid te gee oor die regulatoriese grondslag vir sy voorgestelde registrasiefooi en maandelikse heffing wat van toepassing is op huishoudings met kleinskaalse sonfotovoltaïese (PV)-stelsels. Ondanks die erns van die bekommernisse wat geopper is, het die munisipaliteit versuim om enige reaksie te verskaf.
“Inwoners verdien sekerheid oor die regsgrondslag vir hierdie voorgestelde heffings, maar Emfuleni het tot dusver versuim om enige sinvolle terugvoer te gee. Die tekort aan terugvoer laat ernstige vrae ontstaan oor of die munisipaliteit hierdie heffings kan regverdig,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.
AfriForum het ook ’n petisie van stapel gestuur teen dié munisipaliteit se voorgestelde registrasiefooi en maandelikse heffing op sonkragstelsels. Die petisie het reeds byna 1 000 handtekeninge ontvang, wat die omvang van inwoners se kommer oor die voorgestelde tariewe benadruk.
AfriForum se kommer strek egter nou verder as die Emfuleni-gebied. Die organisasie het nou ’n ondersoek na die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit van stapel gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipaliteit ’n maandelikse heffing van R582,64 ingestel het vir eiendomme met sonkragstelsels. Wat veral kommerwekkend is, is dat hierdie heffing ook geld vir eiendomme wat nie aan die munisipaliteit se kragnetwerk gekoppel is nie, wat beteken inwoners moet die maandelikse fooi betaal bloot omdat hulle sonpanele op hul eiendomme geïnstalleer het.
AfriForum ondersoek tans of die munisipaliteit aan alle statutêre vereistes voldoen het voordat die nuwe tarief ingestel is. Dit sluit in om vas te stel of voldoende openbare deelname plaasgevind het en of inwoners behoorlik van die voorgestelde heffing in kennis gestel is.
Daarbenewens het AfriForum die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) formeel versoek om sy redes vir besluitneming rakende Thaba Chweu se tariefaansoek te verskaf. Hoewel NERSA op 30 Junie aangekondig het dat die redes vir besluitneming vir alle munisipale tariefaansoeke op sy webwerf gepubliseer sou word, is die Thaba Chweu-munisipaliteit se redes vir besluitneming steeds nie vir die publiek beskikbaar nie.
“Dit word toenemend duidelik dat sommige munisipaliteite wat in finansiële nood is sonkraggebruikers as ’n gerieflike bron van bykomende inkomste beskou. Munisipaliteite het beslis die reg om wettige kragnetwerkkostes te verhaal, maar enige nuwe heffings moet regmatig, deursigtig, koste-reflektief en met behoorlike oorweging gemagtig word. Inwoners kan nie bloot die finansiële reddingsboei word vir munisipaliteite wat versuim het om hul finansies verantwoordelik te bestuur nie,” sê Steffens.



