Sannieshof-tak voltooi straatnaamprojek, pak ander kwessies in dorp


AfriForum se Sannieshof-tak het hul straatnaamprojek waartydens meer as 60 straatname op stene aangebring en by die toepaslike strate opgerig is, voltooi. Die projek het meer as R30 000 beloop en dra daartoe by om die dorp se geskiedenis en identiteit te bewaar.
Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, meen dat dié nuwe straatname ook bydra tot veiligheid en dit maak dit weer vir besoekers moontlik om die regte strate te vind.
Benewens die straatnaamprojek het die tak ook saam met ander rolspelers ingespring om die area rondom die dorp se reservoir op te knap. Die gras is gesny en die terrein is skoongemaak om die omgewing netjieser en veiliger vir inwoners te maak. AfriForum het ook ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor die toestand van die reservoir en die infrastruktuur.
Die tak se buurtwag bly ook ’n aktiewe rolspeler in die gemeenskap. Vrywilligers patrolleer gereeld om misdaad te help bekamp en die veiligheid van inwoners te bevorder. Die buurtwag het ook al verskeie misdade voorkom deur sigbaarheid in die dorp te verhoog en te verbeter.
“Die AfriForum-tak in Sannieshof is hard aan die werk om ’n verskil in die dorp te maak. Hierdie projek is net die begin van nog baie projekte wat deur die tak beplan word en AfriForum wil graag die gemeenskap uitnooi om saam met ons hande te vat sodat ons ’n skoner en veiliger Sannieshof vir elkeen kan skep. Die Sannieshof-buurtwag maak ook ’n impak op misdaad en ons kan reeds ’n verskil sien. Dit is ’n bewys dat verhoogde sigbaarheid ’n groot impak op misdaad kan hê,” sluit Nel af.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.



