Só hou AfriForum se strukture die Wes-Kaap veilig
AfriForum se Wes-Kaapse buurt- en plaaswagte het op 9 Oktober saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsrolspelers deelgeneem aan dié organisasie se derde nasionale massapatrollie vir 2026.
Die nasionale massapatrollie het ten doel om landswyd sigbaarheid te verhoog en sodoende misdadige aktiwiteite te minimaliseer.
Suid-Kaap
In die Suid-Kaap het 127 AfriForum-buurtwaglede en 56 lede van ander veiligheidsinstellings aan die patrollie deelgeneem. Tydens dié patrollie is 1 881 km afgelê en 40 insidente is in hierdie tyd aangeteken.

Die Swellendam-buurtwag het in samewerking met die SAPD, Hi-Tech Sekuriteit en ander plaaslike owerhede 8 smokkelhuise deursoek, 9 verdagte persone deursoek en 7 persone in hegtenis geneem. Voorts is daar ook beslag gelê op onwettige drank waar onder 48 kiste bier en 23 sespakke drank. Daar is ook beslag gelê op 3.9 kg dagga, 6.66 kg tik, 16 heel mandrax-tablette en 7 halwe mandrax-tablette. Die span het ook ’n ongelisensieerde voertuig gestop en ’n boete van R2 500 uitgereik aan die bestuurder wat self nie oor ’n rybewys beskik het nie.
In Oudtshoorn is 13 insidente hanteer waaronder ’n verdagte in St. John-straat wat in besit was van ’n gevaarlike wapen. Verskeie ander verdagte aktiwiteite is hanteer en onwettige strukture aangemeld.

Die AfriForum-buurtwaglede in Struisbaai het in samewerking met ’n inwoner ’n verdagte vasgetrek wat na bewering aan voertuie in Kerkstraat gepeuter het. Die verdagte is aan die SAPD oorhandig.

Voorts het 16 lede van AfriForum se Knysna-buurtwag in 6 voertuie by die Oudtshoorn-patrolleerders aangesluit om só praktiese ervaring van AfriForum se buurtwagbedrywighede te kry.
Die Groot-Brakrivier- en Midbrak-buurtwagte het kaartwerkopleiding ontvang en gebeurlikheidsplanne hersien terwyl die Herbertsdale-plaaswag hul gebeurlikheidsplan vir plaasaanvalle ingeoefen het.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, wys hierdie suksesse wat moontlik is wanneer gemeenskappe verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar. “Die suksesse van die Swellendam-buurtwag is besonder bemoedigend, maar de opleiding en samewerking tussen ons verskillende buurtwagte asook ander veiligheidsrolspelers is net so belangrik. Só bou ons nie net aan veiliger gemeenskappe nie, maar ook aan beter opgeleide en meer weerbare veiligheidstrukture.”
Boland
In die Boland het 219 AfriForum-buurtwaglede en 149 lede van ander veiligheidsinstellings, waar onder die SAPD en verteenwoordigers van plaaslike sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Dié patrolleerders het altesaam 5 170 km in 60 voertuie afgelê. Geen insidente is in hierdie tyd aangemeld nie.

Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland meen dat georganiseerde selfbeveiliging, samewerking en volgehoue waaksaamheid die sleutel is tot inwoners se samewerking om veiligheid vir almal te bevorder. “Die Boland-buurtwagte se deelname aan AfriForum se nasionale massapatrollie wys dat inwoners bereid is om aktief betrokke te raak by die veiligheid van hul gemeenskappe.

Weskus
AfriForum se Weskus- en Malmesbury-buurtwagte asook die Matsikama-, Hartebeesfontein- en Hopefield-plaaswagte en die Vanrhynsdorp-buurt- en plaaswag aan die Weskus het óók aan hierdie massapatrollie deelgeneem. Verskeie rolspelers waar onder die SAPD, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), Community in Blue en Fidelity ADT het ook aan die massapatrollie deelgeneem.
Die Matzikama-plaaswag het in hierdie tyd 2 570 km in 30 voertuie afgelê. Altesaam 40 patrolleerders het hier aan die massapatrollie deelgeneem.

Die Vanrhynsdorp-buurt- en plaaswag het 696 km in 8 voertuie afgelê. Gedurende die patrollie het AfriForum-lede die SAPD gehelp om huise te deursoek waarvoor daar lasbriewe uitgereik is. Daar is ook een arrestasie gemaak vir dwelmbesit.
In Malmesbury het sowat 57 AfriForum-buurtwaglede en 155 lede van ander veiligheidsinstellings aan die patrollie deelgeneem en 2 056 km in 94 voertuie afgelê. Daar is twee arrestasies gemaak, een gedurende ’n padblokkade en ’n ander by ’n smokkelhuis. Die buurtwag het voorts ook gehelp om ’n veldbrand langs die N7-snelweg te blus.

Die Hartebeesfontein- en Hopefield-plaaswagte het omstreeks 02:00 die oggend op 10 Oktober hulp verleen tydens ’n mediese noodgeval. Die span het onmiddellik opgetree en toegesien dat die persoon gestabiliseer en na die naaste hospitaal geneem kon word.

Noordelike voorstede
In Durbanville het 15 AfriForum-buurtwaglede saam met 74 lede van ander veiligheidsinstellings aan dié patrollie deelgeneem. Daar is 425 km in 40 voertuie afgelê en gedurende dié patrollie het patrolleerders ’n sluipslaper verwyder wat agter ’n bottelstoor geslaap het.



