|

MidWit-buurtspan se 28 ton teer sorg vir slaggatvrye paaie hele jaar deur

Deur Megan Swart

AfriForum se MidWit-buurtspan het die afgelope tien maande bewys dat hy meer as net sy eie gewig trek as dit kom by die instandhouding van woonbuurte. In hierdie tyd het die span daarin geslaag om soveel sakke teer te gebruik om slaggate op te vul dat dit vergelykbaar is met twee volgelaaide busse.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, het die span altesaam 27,9 ton teer, oftewel 1 117 sakke, sedert die aanvang van die jaar gebruik om slaggate in Middelburg en eMalahleni (Witbank) op te vul.

Die MidWit-buurtspan – met sy span voltydse werkers wat hulle toespits op uiteenlopende herstel- en opknappingsprojekte – het selfs in Junie binne slegs een maand nagenoeg 12 ton asfalt ingespan om slaggate te herstel.

“Hierdie AfriForum-buurtspan het ontstaan uit ’n behoefte vir betroubare dienslewering, daarom kan ’n mens werklik die verskil in die paaie sien waar hierdie span gewerk het,” sê Bekker.

Die span van drie pendel weekliks tussen die twee dorpe om die skoonmaak- en opknappingsprojekte aan te pak. Daar word op ’n rotasiebasis gras gesny, vullis opgetel en slaggate herstel in onder meer Clubville, Dennesig en Die Heuwel.

In die afgelope paar maande het hierdie span altesaam 49 hektaar se gras gesny – ’n oppervlakte gelykstaande aan 70 rugbyvelde. Hiermee saam is 1 326 sakke vol algemene vullis en tuinvullis opgetel en weggery.

“Die groenstroke wat die buurtspan weekliks sny word in vullishope omskep met alles van gestroopte koperkabels tot stukkende elektroniese toestelle. Eenmalige skoonmaakaksies is eenvoudig nie genoeg om die storting te keer nie, daarom moet ons toesien dat gereelde opruiming gedoen word sodat inwoners dié terreine weer met vertroue kan gebruik,” sê Rosemary Ferreira, leier van die buurtspan.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf