| |

Laerskool M.L. Fick samel sowat 3,2 ton plastiekbottels in, wen AfriForum se eerste Blink of stink-herwinningskompetisie

Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom is vanoggend (21 Oktober) aangewys as die wenskool in AfriForum se eerste Blink of stink-herwinningskompetisie. Dié laerskool het behoorlik stof in die oë van die vier ander mededingende laerskole geskop deur ’n indrukwekkende 3 197 kg – oftewel net-net kort van 3,2 ton – plastiekbottels vir herwinning in te samel. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 5,01 kg per leerder. Die Emmies se toewyding aan herwinning bring aan hul skool nie net die gesogte Blink of stink-titel vir 2026 nie, maar die skool stap ook weg met R30 000 as prysgeld.

Alta Pretorius (AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-streek) oorhandig ’n tjek vir R30 000 aan Laerskool M.L. Fick se Jason Pieters (onderwyser, links) en Heyns Deacon (skoolhoof, regs).

Leerders van Laerskool Proteapark en Laerskool Dawid Brink in Rustenburg en Laerskool Mooirivier, Laerskool Baillie Park en Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom het vanjaar die uitdaging aanvaar om aan die eerste Blink of stink-herwinningskompetisie deel te neem. Hierdie skole het oor ’n tydperk van 10 weke meegeding om soveel moontlik plastiekbottels vir herwinning in te samel en het uiteindelik daarin geslaag om ’n totaal van 9,2 ton plastiek in te samel. Laerskool Baillie Park het ’n tweede plek en R15 000 kontant losgeslaan in die kompetisie ná leerders aan dié skool elk ’n gemiddeld van 3,66 kg se plastiekbottels ingesamel het.

Alta Pretorius (AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-streek) en Werner van der Merwe (eienaar van Deswalner Recycling in Potchefstroom, regs) oorhandig ’n tjek vir R15 000 aan Danie Breedt (skoolhoof van Laerskool Baillie Park) wat tweede geëindig het in vanjaar se Blink of stink-herwinningskompetisie.

Die Blink of stink-herwinningskompetisie is aangebied deur AfriForum se afdelings vir Omgewingsake en Onderwys en is daarop gemik om ’n kultuur van herwinning, gesonde mededinging en verantwoordelikheid teenoor die omgewing by laerskoolleerders te vestig.

Deur hul deelname het leerders nie net plastiekafval uit die omgewing verwyder nie, maar ook eerstehands geleer hoe klein, daaglikse besluite ’n groot verskil aan hul gemeenskap en die omgewing kan maak.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, het die leerders se entoesiasme gewys dat omgewingsbewaring reeds van jongs af deel van kinders se alledaagse lewe kan word. “Ons is ongelooflik trots op Laerskool M.L. Fick en elke leerder wat met soveel entoesiasme aan die kompetisie deelgeneem het. Hulle het gewys dat elke plastiekbottel ’n verskil kán maak wanneer ’n skoolgemeenskap saamwerk,” sê De Vaal.

De Vaal hou vol dat hierdie kompetisie oor veel meer gaan as net die hoeveelheid plastiek wat ingesamel is. “Dit gaan daaroor om kinders te leer dat hulle self ’n daadwerklike rol kan speel om hul skole, gemeenskappe en die omgewing skoner en gesonder te maak,” verduidelik hy.

Herwinning speel ’n kritieke rol in die verligting van druk op die land se vullisterreine én beskerm waardevolle natuurlike hulpbronne. AfriForum hoop daarom dat die gewoontes wat gedurende die kompetisie gevestig is, lank ná die laaste bottel geweeg is, sal voortleef.

“Ons wens Laerskool M.L. Fick van harte geluk met hul oorwinning, maar elke skool en leerder wat deelgeneem het, kan tereg trots voel. Saam het hulle gewys wat moontlik is wanneer jongmense, skole, ouers en gemeenskappe hande vat vir ’n skoner omgewing,” sluit De Vaal af.

AfriForum bedank al vyf deelnemende skole, hul personeel, leerders, ouers en gemeenskappe vir hul ondersteuning en deelname aan die eerste Blink of stink-herwinningskompetisie.

Vir meer inligting oor die Blink of stink-herwinningskompetisie of AfriForum se omgewingsprojekte, besoek AfriForum se webwerf.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid