AfriForum eis antwoorde oor Potchefstroom-kragonderbrekings
AfriForum eis in ’n dringende skrywe aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit en Eskom antwoorde oor die jongste vlaag kragonderbrekings en beurtkrag in Potchefstroom. Luidens die munisipaliteit word sogenaamde ladingsbeperking (load curtailment) toegepas weens “hewige oorverhitting” wat herhaaldelike uitklinking (tripping) van die transformator by die Potch DS-substasie tot gevolg het.
In die skrywe wat AfriForum gister (11 Mei) aan die munisipaliteit gestuur het, dring die burgerregteorganisasie onder meer aan op duidelikheid rakende die volgende:
- waarom voorkomende instandhouding nie betyds gedoen is nie;
- wanneer die probleem vir die eerste keer geïdentifiseer is;
- hoe lank die huidige kragonderbrekings gaan voortduur;
- watter maatreëls ingestel sal word om by skedules te hou; en
- wie aanspreeklik is vir die huidige probleme wat ondervind word, Eskom of die munisipaliteit?
Volgens ’n openbare kennisgewing wat die munisipaliteit Vrydag uitgereik het, word ladingsbeperking tans op ’n rotasiebasis toegepas om verdere skade aan die infrastruktuur te voorkom. Die implementering van dié drastiese stap volg boonop luidens die kennisgewing omdat “Eskom tans elektrisiteit verskaf aan die Groter Potchefstroom met behulp van een transformator in plaas van twee”.
AfriForum voer aan dat hierdie situasie die direkte gevolg is van ’n gebrek aan tydige instandhouding en beplanning.
“Dit is onaanvaarbaar dat kritieke elektrisiteitsinfrastruktuur tot op hierdie punt agteruitgegaan het. Inwoners ervaar reeds vir ’n geruime tyd lank probleme met hierdie transformator en tog is daar klaarblyklik nie betyds opgetree nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Munisipaliteite is ingevolge artikel 152(1)(b) van die Grondwet verplig om dienste op ’n volhoubare wyse te lewer, terwyl die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000 bepaal dat dienste betroubaar en van hoë gehalte moet wees. AfriForum benadruk dat die munisipaliteit in die lig van die huidige situasie nie voldoen aan hierdie vereistes nie.
Die munisipaliteit het ’n beurtkragskedule gepubliseer, maar die toepassing van beurtkrag word egter – tot groot frustrasie van inwoners – nie daarvolgens toegepas nie. Dié lukrake toepassing van beurtkrag maak dit vir huishoudings en ondernemings onmoontlik om te beplan en lei derhalwe tot ekonomiese skade.
“Inwoners wat getrou vir krag betaal, word tans aan onvoorspelbare en langdurige kragonderbrekings blootgestel. Die gebrek aan nakoming van skedules vererger die situasie en dui op swak bestuur en koördinering,” sê Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak.
AfriForum het die owerhede versoek om binne vyf werksdae skriftelik op die organisasie se vrae rakende die huidige kragsituasie te reageer. AfriForum oorweeg verdere stappe indien die munisipaliteit weier om te reageer of misluk om die kragprobleme in Potchefstroom dringend te takel.
Jý kan ook ’n verskil maak
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag en maak sodoende ’n tasbare verskil in jou gemeenskap. Kontak Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.



