|

Nuuskommentaar: ’n Wetsontwerp wat meer sê oor staatsmag as waterregte

Deur Marais de Vaal, Omgewingsake-raadgewer by AfriForum

Die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp van 2026 is een van die belangrikste stukke omgewingswetgewing wat voorgestel is sedert die Nasionale Waterwet in 1998 in werking getree het. Tog fokus die parlementêre debat tot dusver byna uitsluitlik op transformasie, terwyl ’n veel belangriker vraag oor die hoof gesien word: Is groter staatsbeheer oor Suid-Afrika se waterbronne werklik die antwoord om billike toegang tot water te verseker?

Sommige van die voorgestelde hervormings word wyd verwelkom. Indien hierdie wysigings aangeneem word, sal dit byvoorbeeld die beskerming van strategiese waterbrongebiede, wat noodsaaklik is vir langtermyn-watersekerheid, versterk, terwyl verantwoordbaarheid versterk sal word deur maatskappydirekteure en munisipale bestuurders persoonlik aanspreeklik te hou vir sekere ernstige omgewingsoortredings.

Die sentrale bekommernis lê egter in die aansienlike uitbreiding van die Departement van Water en Sanitasie se magte. Die privaat verhandeling in watergebruiksregte sal onder meer verbied word, ’n gebruik-dit-of-verloor-dit-beginsel sal vir sekere bestaande waterregte ingestel word, waterhulpbronne sal gereserveer word om rasse- en geslagsregstelling te bewerkstellig, en die staat sal groter beheer uitoefen oor die toekenning van waterregte.

’n Basiese begrip van bestaande wettige watergebruike is nodig om die departement se beweegrede te verstaan. Toe die Nasionale Waterwet in 1998 in werking getree en daarmee die ou waterwet van 1956 vervang het, is waterregte wat tot voor die inwerkingtreding van die nuwe wet wettiglik uitgeoefen is, erken en toegelaat om voort te bestaan, terwyl ’n nuwe lisensiëringstelsel geleidelik geïmplementeer is. Hierdie oorgangsregte het bekend geword as bestaande wettige watergebruike.

Volgens die departement is bestaande wettige watergebruike ’n meganisme wat billike toegang tot water belemmer, omdat dit bly in die hande van diegene wat onder die vorige bedeling voordeel getrek het. Die departement het selfs in ’n parlementêre voorlegging aangevoer dat bestaande wettige watergebruike opsetlik opgegaar word.

Die departement se data toon egter terselfdertyd dat byna die helfte van alle bestaande wettige watergebruike vandag nog – byna drie dekades sedert die Nasionale Waterwet in werking getree het – steeds nie geverifieer is nie.

In die afwesigheid van bewyse om die departement se bewerings rakende bestaande wettige watergebruike te staaf, en gegewe die departement se erkende gebrekkige verifikasie van bestaande wettige watergebruike, berus een van die departement se hoofredes vir die wysiging van die Nasionale Waterwet op aannames, eerder as feite.

Die departement voer ook aan dat die grootste hindernisse vir breër deelname aan die watersektor praktiese beperkings is soos grondbesit, finansiering, infrastruktuur, tegniese ondersteuning en lisensiëringsbystand. Hierdie struikelblokke blyk nie wetlike beperkings te wees nie, maar spreek eerder van die mislukking om bestaande meganismes te implementeer.

Gevolglik ontstaan ’n ongemaklike vraag: Indien die grootste hindernisse vir billike toegang tot water administratief en prakties van aard is, waarom is die voorgestelde oplossing groter staatsbeheer oor die toekenning van waterregte?

Wetgewing mag regmatige, grondwetlike doelwitte nastreef, maar dit moet ook aantoonbaar gekoppel wees aan die probleme wat dit probeer oplos.

Billike toegang tot water in Suid-Afrika is ongetwyfeld ’n belangrike en regmatige grondwetlike doelwit. Daar is egter ’n verskil tussen die verwydering van die werklike hindernisse vir deelname aan die watersektor en die staat se poging om bloot breër magte oor watergebruik te bekom. Indien die praktiese beperkings onopgelos bly, is dit onwaarskynlik dat die voorgestelde hervormings betekenisvolle uitbreiding van deelname aan die watersektor tot gevolg sal hê.

Dit kan eerder regsekerheid verminder, langtermynbelegging ontmoedig, verdere druk op sektore soos landbou plaas wat hoogs afhanklik is van toegang tot water, en die toekenning van waterregte in die hande van politieke verbonde kaders saamtrek.

Uiteindelik gaan die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp oor veel meer as net water. Dit vra die land se inwoners om te besluit of die staat groter magte gegee moet word in die hoop dat dit die doelwitte sal bereik wat dit reeds die afgelope drie dekades lank nie met die bestaande meganismes kon bereik nie.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik