| | | |

AfriForum en gemeenskap tree self op teen De Aar-waterkrisis

AfriForum se Groot-Karoo-tak en lede van die De Aar-gemeenskap het gister (26 Mei) saam gewerk om ’n lekkasie wat druk op ’n reeds sukkelende stelsel geplaas het, te herstel.

Dit volg nadat ’n lekkasie op munisipale waterinfrastruktuur volgens inwoners reeds herhaaldelik aangemeld is, maar steeds nie herstel is nie. Gemeenskapslede het uiteindelik self ingegryp en die lekkasie herstel om verdere waterverliese te beperk en te help om water weer deur die stelsel te kry. Rudi Rudman, ’n vrywilliger by die AfriForum-tak met ’n ambagsagtergrond,  het ’n belangrike rol gespeel deur fisies te help met die herstelwerk asook advies te gee.

Die herstelwerk is ná gewone werksure uitgevoer en het tot ná donker voortgeduur. Met behulp van ’n kragopwekker en kollig het inwoners en rolspelers saamgewerk om die werk af te handel.

Hierdie ingryping vorm deel van verskeie stappe wat tans geneem word om die impak van die waterkrisis in De Aar te help beperk. AfriForum het ook betaal om ’n pomp te laat herstel en die herstelproses koördineer. Dit vorm deel van die eerste pogings om die huidige watervoorsieningsituasie te help verlig.

Hoewel hierdie ingrypings reeds plaasgevind het, ervaar inwoners in verskeie dele van De Aar steeds geen water of swak waterdruk. AfriForum beklemtoon daarom dat hierdie nie ’n permanente oplossing is nie, maar ’n noodsaaklike poging om die onmiddellike druk op die gemeenskap te help verlig.

“Gemeenskappe behoort nie verantwoordelik te wees daarvoor om munisipale infrastruktuur in stand te hou nie. Tog kon ons nie passief toekyk terwyl inwoners sonder water sit nie. Hierdie optrede wys wat moontlik is wanneer mense saamstaan en bereid is om selfs ná donker in te spring om hul gemeenskap te ondersteun,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

De Aar gaan reeds vir meer as sewe dae lank gebuk onder wateronderbrekings en swak watertoevoer, maar die AfriForum-tak en die gemeenskap werk saam om praktiese oplossings te ondersteun om druk op die dorp se waterstelsel te verlig. Die tak het onder meer op verskeie geleenthede na die munisipaliteit toe uitgereik en hul hulp aangebied. Daarbenewens het die tak ook verskeie kwessies onder die Noord-Kaapse premier se aandag gebring.

AfriForum doen dus opnuut ’n beroep op die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit om dringend saam met alle relevante rolspelers aan ’n volhoubare oplossing vir De Aar se wateruitdagings te werk.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Groot-Karoo-tak om ’n verskil in jou omgewing te maak. Die tak doen ook ’n beroep op gemeenskappe om ’n bydra te lewer sodat hulle kan help met watervoorsiening aan inwoners van De Aar, besoek hierdie skakel vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf