| | |

Samewerking tussen buurtwagte en polisie moet nou geformaliseer word

Klangreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen dat die jongste misdaadstatistieke bevestig dat die land steeds diep in ’n misdaadkrisis vasgevang is. Hoewel moord gedurende die eerste kwartaal van die 2026/27-boekjaar met 5,9% afgeneem het, is 5 427 mense steeds binne slegs drie maande vermoor. Dit beteken dat byna 60 mense elke dag hul lewens verloor. Poging tot moord het terselfdertyd met 8,7% toegeneem, terwyl verkragting met slegs 0,3% afgeneem het.

AfriForum verwelkom daarom die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se erkenning dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en gemeenskappe nouer moet saamwerk om misdaad te bekamp. Die minister het beklemtoon dat die regering nie alleen misdaad kan beveg nie en dat buurtwagte, gemeenskapsorganisasies en ander strukture ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid speel.

Volgens AfriForum moet hierdie erkenning egter nou in ’n formele en praktiese vennootskap tussen die SAPD en buurtwagte omskep word.

“AfriForum verwelkom minister Cachalia se erkenning dat gemeenskappe ’n onmisbare rol in misdaadbekamping speel. Ons sê egter al lank dat gemeenskappe nie net tydens groot operasies as ’n hulpbron onthou moet word nie. Die verhouding tussen die SAPD en AfriForum-buurtwagte moet geformaliseer word, sodat daar duidelike protokolle, kommunikasiekanale, die deel van inligting en operasionele samewerking is. Die kapasiteit bestaan reeds in talle gemeenskappe – die regering moet dit net beter benut,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die sukses van sodanige samewerking is weereens die afgelope naweek tydens Operasie Shanela in die Akasia-gebied gedemonstreer. AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag is deur die SAPD genooi om die operasie te ondersteun. AfriForum het op kort kennisgewing sy netwerk gemobiliseer, met ondersteuning van AfriForum se Brits- en Centurion-buurtwagte, asook verskeie plaaslike veiligheidsrolspelers.

Die operasie het onder meer die SAPD, SAPD-hommeltuigeenheid, Tshwane Metropolisie, die Departement van Binnelandse Sake, die Voertuigtak, AfriForum se buurtwagte, honde-eenheid en hommeltuigvermoëns, asook verskeie private veiligheids- en gemeenskapsveiligheidstrukture betrek.

Die samewerking het tot ’n reeks suksesse gelei, waaronder 148 arrestasies vir oortredings van immigrasiewetgewing, 15 arrestasies vir dronkbestuur, arrestasies wat verband hou met dwelmbesit, onwettige drankverkope, gesteelde voertuie en ander oortredings. Twee gesteelde voertuie is ook teruggevind. Verskeie items, waaronder drank, sigarette, onwettige vuurwerke, dwelms, seinonderdrukkers, voertuigonderdele en edelmetale, is gekonfiskeer.

Volgens AfriForum het dié operasie gewys wat moontlik is wanneer wetstoepassers en georganiseerde gemeenskappe hul hulpbronne en inligting kombineer.

“Hierdie is weereens ’n praktiese voorbeeld van wat gebeur wanneer die SAPD en gemeenskapsveiligheidstrukture saamwerk met ’n gemeenskaplike doel. AfriForum se radiokommunikasienetwerk het gehelp om die verskillende spanne voortdurend met mekaar verbind te hou, terwyl ons buurtwagte hul plaaslike kennis, voertuie, LPR-vermoëns en ander hulpbronne beskikbaar gestel het. Dit is die soort samewerking wat ons op ’n groter en meer gestruktureerde vlak wil sien,” sê Broodryk.

Die regering bly verantwoordelik vir wetstoepassing en openbare veiligheid. Gemeenskappe beskik egter oor ’n netwerk van vrywilligers wat bereid is om ’n betekenisvolle rol te speel om misdaad te voorkom en die polisie se hande te versterk.

“Die misdaadsyfers wys dat die regering eenvoudig nie alleen die stryd kan wen nie. Daar is ’n enorme veiligheidskapasiteit in Suid-Afrikaanse gemeenskappe wat reeds elke dag op voetsoolvlak funksioneer. Ons verwelkom die minister se erkenning daarvan. Nou moet die regering die volgende stap neem en hierdie samewerking formaliseer. Ons kan nie elke kwartaal dieselfde gesprek voer terwyl inwoners van die land steeds elke dag vermoor, beroof en verkrag word nie,” sluit Broodryk af.

AfriForum sal voortgaan om sy netwerk van 177 buurt- en plaaswagte uit te brei en te versterk en is bereid om met die SAPD saam te werk waar samewerking prakties, verantwoordbaar en op meetbare resultate gerig is.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid