Misdaad
|

Misdaadstatistieke: SAPD faal gemeenskappe sonder ’n magsvermenigvuldiger

Die jongste misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar bevestig aan AfriForum dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) steeds nie daarin slaag om sy mandaat om Suid-Afrikaners te beskerm, suksesvol uitvoer nie. Ondanks die effense afname in geweldsmisdade, bly dié soort misdrywe oor die land heen kommerwekkend hoog.

AfriForum voer aan dat polisiëring nie effektief vanuit ’n sentrale bestuursmodel beheer kan word as gemeenskappe se uitdagings met betrekking tot misdaad, drasties van streek tot streek verskil nie. Dit is daarom bemoedigend dat Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, positief ingestel is tot uitgebreide samewerking met plaaslike veiligheidstrukture.

Die burgerregteorganisasie dring al lank daarop aan dat amptelike samewerking tussen die SAPD en gemeenskapsveiligheidstrukture noodsaaklik is om misdaad doeltreffend te bekamp. AfriForum se 177 plaas- en buurtwagte het al op verskeie geleenthede, met groot sukses, as ’n tydelike magsvermenigvuldiger vir die polisie gedien.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê die waarnemende minister moet nou daad by die woord voeg en amptelike samewerkingsooreenkomste met plaaslike veiligheidstrukture aangaan sodat daar nie net ’n geringe daling in die misdaadstatistieke aangeteken word nie, maar ’n daadwerklike verskil op voetsoolvlak gevoel word.

Luister verder na wat AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid oor die vierde kwartaal se misdaadstatistieke te sê het:

Soortgelyke plasings

Veiligheid