|

AfriForum se Paarl- en Stellenbosch-takke smelt saam as Wynland-tak

AfriForum se Paarl- en Stellenbosch-takke het vandeesmaand amptelik saamgesmelt en staan voorts bekend as AfriForum se Wynland-tak. Hierdie samesmelting vorm deel van ’n strategiese poging om kapasiteit, kundigheid en hulpbronne beter oor die Wynlande te versprei en gemeenskappe meer doeltreffend te dien.

Die Paarl- en Stellenbosch-gebiede deel soortgelyke uitdagings en deur kragte saam te snoer, sal die nuwe Wynland-tak ’n sterker en meer gekoördineerde rol kan speel in die aanpak van plaaslike kwessies. Die samesmelting sal die tak in staat stel om ’n groter geografiese gebied te bedien en hulpbronne en verantwoordelikhede meer effektief te versprei. Die Wynland-tak sal onder meer fokus op gemeenskaps- en skoleprojekte, asook om veiligheid op te skerp.

“Die samesmelting bied aan ons die geleentheid om ons kundigheid en energie daar aan te wend waar dit die grootste verskil kan maak. Ons doel is om ’n aktiewe en toeganklike gemeenskapstruktuur te bou wat inwoners kan help om oplossings vir plaaslike uitdagings te vind,” sê Ignatius van Rensburg, voorsitter van AfriForum se Wynland-tak.

Die bestuur van die nuwe tak bestaan uit Ignatius van Rensburg (voorsitter), Jeanne Spamers (ondervoorsitter), Rudi Spamers (veiligheidsvoorsitter), Antoinette Tigar (sekretaresse), Wena Bartie (tesourier), Drikus Groenewald (plaaslikeregeringsake), Jacques du Toit (omgewingsake), Martin Spamers (jeugbeampte) en Karin Hanekom (sakenetwerk en adviseur).

“AfriForum sien uit om voort te bou op die werk wat reeds deur die Paarl- en Stellenbosch-takke gedoen is en om, deur die nuwe Wynland-tak, nóg groter samewerking tussen gemeenskappe te bevorder,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die Wynland-tak nooi inwoners, skole en ander gemeenskapsorganisasies uit om betrokke te raak en saam oplossings te vind vir die uitdagings wat die gebied in die gesig staar. Sterk gemeenskappe word gebou wanneer inwoners saam verantwoordelikheid neem vir hul veiligheid, omgewing en toekoms.

Raak vandag by jou naaste AfriForum-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf