|

Wanneer boeliegedrag jou huis toe volg: AfriForum pak kuberboeliery aan

Boeliegedrag eindig nie noodwendig wanneer die skooldag verby is nie. Vir ’n kind wat aanlyn geteiken word, kan dit voel asof daardie negatiewe boodskap saam met hul by die skoolhek uitstap. Dít is een van die fokuspunte wat AfriForum se teenboeliespan tydens ’n besoek aan Laerskool Krugerpark in Mokopane (Potgietersrus) met leerders bespreek het. Tydens die aanbieding het leerders geleer hoe om kuberboeliery raak te sien en wat ’n leerder kan doen wanneer hulle, of iemand anders, aanlyn geteiken word.

“Kinders dink soms dat dit wat op ’n skerm gebeur, minder ernstig is omdat dit nie van aangesig tot aangesig gebeur nie. Maar vir die kind aan die ander kant van die skerm is die seer baie werklik,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram.

“’n WhatsApp-boodskap, ’n foto wat gedeel word of ’n kwetsende opmerking op sosiale media kan binne sekondes deur baie mense gesien word. Daarom moet ons kinders leer om mooi te dink voordat hulle iets tik, deel of aanstuur – en om hulp te vra wanneer iets verkeerd voel.”

Die aanbieding fokus nie net op die kind wat geteiken word nie, maar ook op die rol van ander kinders wat dit sien gebeur. ’n Leerder wat ’n kwetsende boodskap aanstuur, daarop reageer of dit verder versprei, kan die situasie vererger. Om eerder nie deel te neem nie, vir die regte ding op te staan en ’n volwassene daarvan te vertel, kan ’n groot verskil maak.

Matteus, AfriForum se teenboeliespan se gelukbringer, help om hierdie belangrike boodskap tuis te bring op ’n manier wat jonger leerders verstaan. Deur die wapenrusting van God as deel van die program te gebruik, leer kinders dat waarheid, vrede, goedhartigheid en moed hulle ook in die digitale wêreld moet lei. Wat ons op ’n skerm sê, deel of aanstuur, wys immers ook wie ons is en hoe ons ander behandel.

“Ons wil hê leerders moet weet dat hulle nie alleen hoef te wees wanneer kuberboeliery plaasvind nie,” sê Erasmus. “Vertel iemand wat jy vertrou. Moenie kwetsende inhoud verder versprei nie en moenie bang wees om hulp te vra nie. En as jy sien dat iemand anders geteiken word, is dit jou plig om dit aan te meld.”

AfriForum se teenboeliespan besoek skole regoor die land om met leerders oor boelie- en kuberboeliegedrag te praat en hulle toe te rus om verantwoordelik op te tree. Laai AfriForum se Kuberboeliegids gratis af.

Stuur ’n e-pos aan onderwys@afriforum.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en aanbiedings by skole.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners