Sakelui raak belasting baas by eerste AfriForum Sakenetwerk-geleentheid in Kaapstad vir 2026
AfriForum Sakenetwerk vir die Kaapstadse noordelike voorstede het die jaar op ’n hoë noot afgeskop met hul eerste netwerkgeleentheid vir 2026. Ongeveer 40 gaste het dié geleentheid op 25 Februarie by Chocolat Bistro bygewoon. Letha Stofberg, stigter van Pienaar Stofberg Bestuurskonsultante, het as gasspreker opgetree.
Tydens die funksie het elke gas die geleentheid gehad om hulself en hul onderneming in 30 sekondes voor te stel. Hierna het Stofberg die gaste meer vertel oor onder meer belasting vir die verskillende ondernemingsenititeite en hoe om op ’n wettige manier minder belasting te betaal. Die oggend is afgesluit met ’n heerlike ontbyt en verdere netwerk.
Volgens Tania Verdoes, voorsitter van AfriForum Sakenetwerk Noordelike Voorstede, is daar opwindende gebeurtenisse om na uit te sien hierdie jaar waaronder verskeie netwerkgeleenthede, opleidingsessies, werkswinkels en dan die twee groot geleenthede naamlik die Tinteltong Toekennings en die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.
Die Tinteltong Toekennings is daarop gemik om ondernemings wat op ’n kreatiewe manier in Afrikaans besigheid doen, te beloon. Die wenner word deur ’n stemproses van die plaaslike AfriForum Sakenetwerk en die publiek bepaal. Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is ’n nasionale kompetisie, waarvan die 2025-reeks binnekort op AfriForumTV beskikbaar sal wees.
AfriForum Sakenetwerk is ’n netwerk van Afrikaanse sakelui wat hom beywer vir die groei van gemeenskapsekonomie deur volhoubare, selfstandige ondernemings. Die netwerk skep geleenthede vir Afrikaanse sakelui om volhoubaar te wees deur met mekaar bande te smee en sake te doen tot bevordering van selfstandige gemeenskappe.
Die netwerk se dienste word gelewer aan bestaande klein en mediumgrootte ondernemings, asook aan entrepreneurs en voornemende entrepreneurs.
Om deel te word van AfriForum Sakenetwerk, besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za.





