|

Kallie Kriel getuig voor Khampepe-kommissie: “Politieke inmenging verhoed dat ANC-leiers vervolg word vir terreurdade voor 1994”

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)

Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)


Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag tydens sy getuienis voor die Khampepe-kommissie aangevoer dat politieke inmenging verhoed dat ANC-leiers wat nie amnestie gekry het vir growwe menseregteskengs tydens die vorige bedeling nie, ondersoek of vervolg word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, by die Khampepe-kommissie se sitting.

Kriel het tydens sy getuienis ’n pleidooi vir gelykheid voor die reg gelewer. Hy het daarop gewys dat óf almal wat skuldig is aan growwe menseregteskendings tydens die vorige bedeling ongeag hul politieke affiliasie vervolg moet word óf dat geen vervolgings moet plaasvind nie. Kriel het daarop gewys dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tans slegs lede van die voormalige veiligheidsmagte vervolg, terwyl die ANC-leiers en ander wat onskuldige burgerlikes in terreurdade soos landmynaanvalle en bomontploffings laat teiken het, steeds skotvry daarvan afkom.

Die Khampepe-kommissie is tot stand gebring ná druk van onder andere die familie van die Cradock-4. Dit het ten doel om ondersoek in te stel na die redes waarom individue wat verantwoordelik was vir politieke misdade tydens die apartheidsjare en nie amnestie gekry het nie, nie vervolg is nie. Volgens AfriForum is die Khampepe-kommissie se mandaat ook van toepassing op ANC-misdade aangesien die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) destyds bevind het dat die ANC verantwoordelik was vir ’n reeks growwe menseregteskendings, waaronder bomontploffings en landmynaanvalle op burgerlikes, asook die feit dat 37 ANC-leiers nie amnestie vir hierdie menseregteskendings ontvang het nie.

Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het Kriel, sowel as Cilliers van der Merwe se getuienis vandag voor die Khampepe-kommissie gelei. Van der Merwe se pa, Jaap, ’n onskuldige burgerlike is op 1 November 1978 koelbloedig naby die Botswana-grens deur ANC-insypelaars vermoor. Die Van der Merwe-familie het aan AfriForum ’n mandaat gegee om hulle voor die Khampepe-kommissie by te staan.

Cilliers van der Merwe het getuig dat sy oorlede moeder en hul familie nooit afsluiting kon kry nie omdat sy pa se oorskot tot vandag toe nie opgespoor kon word nie. Die oorlewendeverdagte in die moord, wat destyds die skuilnaam John Msibi gebruik het, het nie by die WVK om amnestie aansoek gedoen nie en leef steeds. Sy identiteit is bekend aan die owerhede. Die Khampepe-kommissie is versoek om te bepaal waarom Van der Merwe se vermeende moordenaar ten spyte van die getuienis teen hom, nie vervolg is nie.

Cilliers van der Merwe, seun van die vermoorde Jaap van der Merwe, lewer sy getuienis by die Khampepe-kommissie.

Jaap van der Merwe is destyds vermoor toe hy ’n saamrygeleentheid wou bied aan ANC-insypelaars wat voorgegee het dat hulle rylopers is. Die een ANC-insypelaar het Van der Merwe sonder rede in die rug geskiet en nadat hy vooroor geval het,hom omgedraai en in die gesig geskiet. Dié gebeure en die verdagtes se name is later deur ’n ANC-lid bevestig. Die teleskoop van Van der Merwe se jaggeweer, wat tydens die aanval gesteel is, is ook later in ’n ANC-wapenopslagplek gevind. Die WVK het die moord as die handewerk van ANC-lede gekategoriseer.

Kriel het ook tydens sy getuienis die kommissie spesifiek versoek om antwoorde te kry oor waarom geen ANC-leier vervolg is vir die moord op Dirk van Eck se vrou, Kobie, en hul twee kinders, Nelmari (8) en Nasie (2), nie. Kobie, Nelmari en Nasie is in Desember 1985 dood in ’n ANC-landmynaanval. Dié landmynaanval was deel van die ANC se strategie waarop in Junie 1985 in Kabwe besluit is om ook burgerlikes te teiken deur onder meer ’n landmynveldtog genaamd Operasie Cetshwayo. Van Eck het AfriForum reeds in 2007 versoek om te help toesien dat geregtigheid vir dié moorde geskied. Die NVG fokus egter tans slegs op die vervolging van lede van die vorige bedeling se veiligheidsmagte en weier om ANC-lede vir hul wandade te vervolg.

Kriel het tydens sy getuienis die Khampepe-kommissie daarop gewys dat daar duidelike bewyse is van politieke inmenging binne die NVG om ANC-leiers teen vervolging te beskerm. Advokaat Paul Fick SC wat voor sy aftrede in diens van die NVG was, het byvoorbeeld tydens ’n onlangse gesprek met Kriel aangedui dat hy opdrag van advokaat Bulelani Ngcuka, die destydse nasionale direkteur van Openbare Vervolging (DOV), ontvang het om nie verder ondersoek in te stel na ANC-leiers se betrokkenheid by die terreurdade nie. Die dossiere is daarna sonder enige vervolging terugbesorg aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Kolonel Tollie Vreugdenburg, ’n afgetrede NVG-ondersoeker wat destyds betrokke was by die ondersoek na die Van der Merwe-moord, het ook aan Kriel bevestig dat advokaat Chris Macadam, ’n senior lid van die NVG, geen aptyt getoon het om ANC-lede te ondersoek nie.

Advokaat Vusi Pikoli, voormalige DOV, het ook in ’n eedsverklaring ter ondersteuning van die families van anti-apartheidsaktiviste se saak, aangedui dat daar politieke inmenging was om nie sake wat deur die WVK vir verdere ondersoek en vervolging na die NVG verwys is, te vervolg nie. Dit sluit sake teen ANC-leiers in.

Agtergrond

Die WVK het in sy finale verslag verklaar: “[T]he Commission found the ANC to be responsible for a range of gross human rights violations arising out of unplanned operations; the bombing of public buildings, restaurants, hotels and bars; the landmine campaign in the northern and northeastern parts of South Africa.”

Die insypeling van ANC-lede vanaf die Botswana-grens wat tot Van der Merwe se dood gelei het, het in opdrag van senior ANC-leierskap plaasgevind. Die landmynaanvalle waaraan die WVK die ANC skuldig bevind het, het boonop gevolg op ’n besluit wat in Junie 1985 deur ANC-leiers geneem is tydens die organisasie se nasionale konferensie in Kabwe, Zambië. Hierdeur is bepaal dat die onderskeid tussen harde en sagte teikens moes verdwyn en dat terreuraanvalle ook deur middel van landmynaanvalle uitgevoer sou word as deel van die ANC se landmynveldtog, bekend as Operasie Cetshwayo.

Bogenoemde besluite en die uitvoering daarvan staan in stryd met protokol I van die Geneefse Konvensiewat uitdruklik die teiken van burgerlikes en die gebruik van metodes soos landmynaanvalle, wat nie tussen burgerlike en militêre teikens onderskei nie, verbied. Die terreuraanvalle het plaasgevind ten spyte daarvan dat die ANC reeds in 1980 hierdie protokol onderteken het.

Ná die Kabwe-konferensie was die meerderheid van die ANC se terreurdade op burgerlikes gemik. Die ANC en hul bondgenote was verantwoordelik vir honderde moorde op burgerlikes, insluitend ongeveer 700 halssnoermoorde (waardeur ’n brandende motorband om die slagoffer se nek geplaas is), sowat 400 ander lewende verbrandings en byna 250 moorde weens bomontploffings en skietvoorvalle.

Die ANC het op verskeie geleenthede heelparty van die terreurdade waarvoor hulle verantwoordelik was, vermeld in hul publikasies soos Sechaba en Mayibuye.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik