| |

AfriForum hou waak oor Swanton-moordsaak ná verdere uitstel

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Die moordsaak waarin twee lyfwagte verbonde aan die kantoor van die burgemeester van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, Douglas Maimane, teregstaan vir die beweerde moord op lugmagsersant Michael Swanton, is vandag in die Pretoria Landdroshof tot 8 Oktober 2026 uitgestel omdat die nadoodse-ondersoekverslag nog nie afgehandel is nie.

AfriForum het reeds sy regspan opdrag gegee om ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op te tree juis vanweë die ernstige kommer oor die politieke bande van die beskuldigdes, die omstandighede rondom hul aanstelling en die moontlikheid van onbehoorlike inmenging in die regsproses.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is dit belangrik dat die ondersoek volledig en professioneel afgehandel word, maar onnodige vertragings in sake van hierdie aard ondermyn die publiek se vertroue in die strafregstelsel.

“AfriForum erken dat ondersoeke deeglik gedoen moet word en dat die nadoodse verslag ‘n belangrike deel van die vervolgingsproses vorm. Tog moet die ondersoek sonder onnodige vertragings afgehandel word. Wanneer sake waarin polities verbonde beskuldigdes teregstaan, herhaaldelik uitgestel word, skep dit die indruk dat geregtigheid onnodig vertraag word en dit is ’n persepsie wat die owerhede ten alle koste moet vermy,” sê Broodryk.

Swanton is na bewering op 28 Januarie vanjaar doodgeskiet deur twee lyfwagte wat aan burgemeester Maimane se kantoor verbonde is. Die beskuldigdes is vroeër op borgtog vrygelaat, ondanks die erns van die aanklagte en die kommer oor hul beweerde betrokkenheid by die misbruik van sogenaamde blouligvoertuie en die nabootsing van polisielede.

“Dit gaan oor die vraag of individue met politieke bande op dieselfde wyse aan die reg verantwoordbaar gehou word as enige ander landsburger. Die publiek moet die versekering hê dat daar nie twee regstelsels bestaan nie – een vir diegene met politiekebande en een vir gewone landsburgers.”

Broodryk sê AfriForum se waaksaamheidsopdrag sal voortduur totdat die saak afgehandel is.

“Ons sal die verrigtinge noukeurig moniteer om toe te sien dat die regsproses sonder onbehoorlike beïnvloeding verloop. Geregtigheid moet nie net geskied nie, dit moet sigbaar geskied.”

AfriForum herhaal sy standpunt dat die Swanton-familie en die publiek geregtig is op volle deursigtigheid in sake waar ernstige geweldsmisdade en beweerde politieke inmenging ter sprake is.

Die organisasie se regspan sal die saak weer op 8 Oktober waarneem en sal voortgaan om verantwoordbaarheid en die oppergesag van die reg te bevorder.

Soortgelyke plasings

Veiligheid