Begroting 2026: Belastinglas bly steeds groot en belastingbasis te klein – AfriForum
Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)
AfriForum waarsku dat die land se belastingbetalers steeds onder geweldige druk verkeer ondanks verskeie nugtere begrotingsbesluite wat Enoch Godongwana, minister van Finansies, vandag tydens sy begrotingsrede in Kaapstad aangekondig het.
Die burgerregteorganisasie beskryf die afskaffing van R20 miljard se belastingverhogings wat voorlopig in die Mei 2025-begroting ingesluit was, en die aanpassing op belastingkerwe en -kortings vir persoonlike inkomstebelasting ooreenkomstig inflasie as nugtere besluite. Die verhoging van die drempel vir verpligte BTW-registrasie vir kleinsakeondernemings van R1 miljoen na R2,3 miljoen is ook ’n welkome stap. AfriForum maan egter dat die privaat sektor, gemeenskappe en individuele belastingbetalers meer erkenning moet kry vir die relatief beter fiskale posisie wat hierdie jaar aangekondig is.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is verhoogde alkohol- en tabakaksyns nutteloos as dit nie gepaard gaan met beter wetstoepassing nie. “Hulle noem dit ‘sondebelasting’, maar die ware sondaars ontduik dié belasting. Intussen was totale belastinginkomste weer hoër as verwag omdat wetsgehoorsame burgers getrou betaal.”
Boshoff sê verder dat die minister sommige suksesse voortydig wil vier. “Die Tesourie maak optimistiese projeksies oor ekonomiese groei en verminderde staatskuld en wens dan hulself geluk asof die projeksies reeds gerealiseer het. Buitendien is selfs die projeksies van die ekonomiese groei laer as die globale gemiddeld. Die verbetering wat tans aangeteken word, is boonop eerder grootliks te danke aan ’n veerkragtige privaat sektor as die Tesourie se fiskale se beleid.”
Volgens AfriForum is sommige afdelings van die begrotingsrede ’n implisiete erkenning van staatsverval en mislukkende beleid. “Verhoogde besteding aan gesondheid, onderwys en vervoerinfrastruktuur gaan nie op sigself die swak toestand van hierdie departemente verbeter nie – die geld moet eerder reg aangewend word. ’n Goeie begroting kan nie opmaak vir swak regering nie,” sluit Boshoff af.



