| | | |

R54 miljard wat kragverbruikers moet opdok, nie dringend vir hof – AfriForum

Klankgreep: Dalena Beyers (Afrikaans)

AfriForum se hofaansoek om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te dwing om redes te gee vir sy besluit om ’n bykomende Eskom-tariefverhoging ten bedrae van nagenoeg R54 miljard toe te staan, is van die dringende rol geskrap. Die saak sal daarom eers later in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor word. AfriForum bevraagteken die rasionaliteit en deursigtigheid van die tariefbepalingsproses.

Die geskil volg op ’n sogenaamde berekeningsfout wat daartoe gelei het dat Nersa in Februarie vanjaar bykomende kragtariefverhogings aan Eskom toegestaan het om op te maak vir ’n nagenoeg R54 miljard-tekort wat die oorspronklike verhogings sou laat. Kragtens dié besluit is verhogings van 8,76% vir die 2026/2027-boekjaar en 8,83% vir die 2027/2028-boekjaar goedgekeur. 

AfriForum het kort ná die aankondiging by Nersa aangedring op die bekendmaking van die redes vir dié verhoging. Nersa het egter, ondanks ’n statutêre verpligting daartoe, versuim om die redes vir die besluit te gee, waarna die burgerregteorganisasie hom na die hof gewend het om duidelikheid te kry.

Die saak sou Dinsdag in die hof voorgekom het, maar is later na vandag geallokeer.

Nersa het intussen Sondagaand, op die vooraand van hul verskyning in die hof, sy redes vir die goedgekeurde verhoging gepubliseer. Die reguleerder het vroeër in sy repliserende eedsverklaring aangevoer dat dit nie in ’n posisie was om die redes vroeër beskikbaar te stel nie. AfriForum hou vol dat dié stelling soos vervat in die eedsverklaring die irrasionaliteit van Nersa se besluit – wat skynbaar sonder behoorlike oorweging reeds in Februarie geneem is – bevestig.

Die aangepaste besluit oor Eskom se sesde veeljarige tariefbepalingsaansoek (MYPD6) volg ná ’n beperkte openbaredeelnameproses in Januarie afgehandel is. Die Hooggeregshof in Pretoria het in Desember in AfriForum se guns beslis en bepaal dat Eskom en Nersa se vroeëre skikking, wat agter geslote deure bereik is met die doel om die berekeningsfout reg te stel, sonder behoorlike openbare deelname plaasgevind het. Die hof het voorts bepaal dat ’n herbepaling van die tariefverhoging wettig, rasioneel en deursigtig moet wees.

Die openbaredeelnameproses wat in Januarie afgesluit is, was derhalwe daarop gemik om te voldoen aan die voorvereistes van die Wet op die Nasionale Energiereguleerder en die Wet op Energieregulering.

Volgens Dalena Beyers, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake, strook Nersa se langdurige stilswye oor die redes vir sy hersiene besluit, met die geheimhouding van die oorspronklike skikking tussen Eskom en Nersa. “Hierdie verhoging raak alle kragverbruikers. Daarom is behoorlike openbare deelname en die openbaarmaking van die redes vir die besluit noodsaaklik en in die belang van verbruikers. Die proses was duidelik uit die staanspoor twyfelagtig en wys op irrasionele besluitneming en ondeursigtigheid – en die hof sal nou in die belang van alle kragverbruikers duidelikheid oor die wettigheid van dié besluit en Nersa se weerhouding van inligting daaroor, moet gee,” verduidelik Beyers.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf