| | | |

Geen voorbereiding, net passie: Limpopo se jong debatteerders gee hul bes

AfriForum se Dink of Sink-span het op 26 Augustus die Limpopo-provinsiale uitdunrondte van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders by die Hoërskool Ben Vorster aangebied. Die kompetisie het belowende jong debatteerders van oor Limpopo heen die geleentheid gebied om hul redenasievermoë, spontane denke en openbare debatsvaardighede op die proef te stel – sonder die voordeel van vooraf voorbereiding.

Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie is daarop gemik om Afrikaanse debatkuns op laer-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder. Die kompetisie bied nie net aan leerders ’n platform om hul passie vir Afrikaans en debat te ontwikkel nie, maar rus hulle ook toe met waardevolle vaardighede soos kritiese denke, selfvertroue, vinnige besluitneming en die vermoë om onder druk duidelik en oortuigend te kommunikeer.

Altesaam 117  leerders van sestien hoërskole in Limpopo het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was die Hoërskool Ben Vorster, Merensky Landbou Akademie, Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Pietersburg. Gedurende die dag het die 39 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hulle verwysingsraamwerk.

“Die leerders het met merkwaardige selfvertroue en entoesiasme die uitdaging van onvoorbereide debat aangepak. Hulle het gewys dat hulle vinnig kan dink, hul standpunte duidelik kan formuleer en sterk op hul opponente se argumente kan reageer. Die leerders se passie vir debat, Afrikaans en die kuns van redenasie was duidelik sigbaar en het gewys dat Limpopo oor ’n nuwe generasie talentvolle jong debatteerders beskik,” sê Nicolene Smith, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.

In die junior kategorie (graad 8- en 9) het die Hoërskool Ben Vorster se Tihana Venter, Donny Kachale en Weirich Vorster koning gekraai terywl Merensky Landbou Akademie se Mieke Erasmus, Alizay le Roux en Willem Mostert as die naaswenners aangekondig was.

In die senior kategorie (graad 10, -11 en -12) het Merensky Landbou Akademie se Eddie Mostert, Jean de Wet en Luzaan Erasmus die goue trofee huis toe geneem terwyl die Hoërskool Ben Vorster se Juliana du Plessis, Lené Camphor en Zené de Jager  as die naaswenners aangekondig was.

“Die hoërskooldebatteerders het ’n indrukwekkende vermoë getoon om vinnig te dink, standpunte onder druk te formuleer en met selfvertroue daarop te reageer. Hul entoesiasme en bereidwilligheid om die uitdaging van onvoorbereide debat aan te pak, was besonder opvallend. Ons sien daarna uit om hierdie jong debatteerders verder te ondersteun en ’n platform te bied waar hulle hul debatsvaardighede, kritiese denke en liefde vir Afrikaans kan ontwikkel en uitleef,” sluit Smith af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners