Een klein dorpie, een reuseverskil: AfriForum se Chrissiesmeer-vullisdromprojek brei uit
AfriForum se Chrissiesmeer-vullisdromprojek het net meer as ’n jaar gelede afgeskop, maar dié volhoubare projek maak reeds ’n reuseverskil in dié geliefde toeristedorpie. Sedert die begin van die jaar is daar as deel van hierdie projek reeds meer as 530 sakke vullis verwyder, waarvan 99 in Junie alleen verwyder is.
Die projek vul onder meer ’n leemte wat weens swak dienslewering deur die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit gelaat is. Aangesien munisipale vullisverwydering by huishoudings so onbetroubaar is, gooi talle inwoners ook hul huishoudelike afval noodgedwonge in die AfriForum-vullisdromme.



Volgens Millicent van den Heever, voorsitter van AfriForum se Chrissiesmeer-tak, is sakeondernemings se terugvoer oor die projek positief. “Besighede rapporteer dat die dorp aansienlik skoner is en dat hul gaste en besoekers dit spesifiek aan hulle noem. Hierdie terugvoer dien as ’n bewys dat die projek ’n verskil maak en stadig maar seker help toesien dat besighede meer en meer voete kry,” verduidelik Van den Heever.
Die Chrissiesmeer-tak het ook ’n tyd gelede die algehele instandhouding van die plaaslike begraafplaas oorgeneem en verseker met die gereelde sny van gras in die begraafplaas dat dié terrein ’n waardige rusplek vir geliefdes bly. Toe die tak boonop onlangs ’n spesiale versoek ontvang van ’n familie in Mbombela (Nelspruit) rakende die opknapping van ’n geliefde se graf, het dié span nie gehuiwer om in te spring en die herstel en opknapping te hanteer nie.

“Ons ontvang weekliks versoeke vir ekstra hulp met projekte, en hoewel ons beperkte fondse het probeer ons altyd om ’n plan te maak,” sluit Van den Heever af.
Die Chrissiesmeer-tak nooi plaaslike ondernemings en inwoners uit om met die tak saam te werk en die heropbou van dié toeristedorp te verseker. Kontak Van den Heever (079 300 9402) of besoek www.wordlid.co.za vandag nog.



