AfriForum gaan voort met proses om Johannesburg-metro se omstrede waterheffing te betwis
Hoewel die verhoging van 65,6% in die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se omstrede wateraanvraagbestuursheffing van vandag af geld, is AfriForum steeds besig om stappe te doen om te verseker dat die implementering daarvan gestuit word. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Johannesburg verlede week AfriForum se dringende aansoek van die hand gewys het om die metro se besluit van 27 Mei – om die heffing as deel van sy 2026/2027-begroting aan te neem – te hersien en tersyde te stel.
Die hof het bevind dat inwoners van die Johannesburg-metro nie onherstelbare skade sou ly as die aansoek in die gewone loop, eerder as op ’n dringende grondslag, voortgaan nie. Daarom moet die meriete van AfriForum se aansoek nog oorweeg word om te bepaal of die heffing wettig is of nie, wat na verwagting eers teen November sal wees.
Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, moet inwoners van die Johannesburg-metro intussen opdok vir dié heffing wat AfriForum as onwettig beskou. Teen die tyd wat die saak in die gewone verloop aangehoor word, sal die metro sy sakke met ’n geskatte R750 miljoen volstop uit die invordering van dié heffing.
“Sodra daardie inkomste ingesamel is en in die metro se koffers beland het, word dit al hoe moeiliker om die gevolge ongedaan te maak,” waarsku De Vaal.
Daarom het die organisasie sy regspan opdrag gegee om toe te sien dat alle nodige hofstukke nou geliasseer word. Daarna kan ’n formele versoek vir spesiale vergunning om die aansoek op ’n vroeër datum aan te hoor, by Lebogang Modiba, die waarnemende adjunk-regterpresident van die Gautengse Hooggeregshof, ingedien word.
AfriForum meen dat laerinkomste-huishoudings wat nie vir die metro se hulpprogram vir minderbevoorregtes kwalifiseer nie, die swaarste getref sal word deur die implementering van dié heffing. Huishoudings in die Johannesburg-metro sal, ongeag die hoeveelheid watergebruik, van vandag af ’n vaste maandelikse heffing van R107,74 (BTW uitgesluit) moet betaal. Die heffing is boonop bykomend tot die ander munisipale heffings waarop verhogings bo inflasie ingestel is en selfs verdere druk op reeds oorspanne huishoudelike begrotings plaas.
Die voorgestelde verhoging in die heffing is vroeër vanjaar in die metro se konsepbegroting geïdentifiseer. AfriForum het tydens die openbaredeelnameproses in Mei sy kommer oor dié heffing laat hoor. Die organisasie het herhaaldelik inligting versoek oor hoe die voorgestelde 65,6%-verhoging bereken is en waarom die implementering daarvan nodig geag is. Die organisasie voer aan dat die metro se versuim om inligting te voorsien, dit vir die publiek onmoontlik gemaak het om te bepaal of so ’n aansienlike verhoging rasioneel regverdigbaar is.
Buiten die metro se obstruksie van die openbaredeelnameproses, is die heffing volgens AfriForum boonop ook strydig met verskeie wetlike vereistes. Daarom bly dit in die openbare belang om uitsluitsel oor die wettigheid van die heffing te bekom.
“Ons respekteer die hof se beslissing, maar die realiteit bly steeds dat inwoners van die Johannesburg-metro nou ’n heffing betaal waarvan die wettigheid nog nie bepaal is nie. Elke maand wat verbygaan, vorder die metro meer inkomste in deur ’n heffing wat uiteindelik onwettig verklaar kan word. Daarom glo ons dat hierdie saak so gou as redelikerwys moontlik aangehoor moet word,” sê De Vaal.
“Alhoewel ons nie daarin geslaag het om dringende verligting te verkry nie, is hierdie saak nog lank nie verby nie. Ons bly daartoe verbind om verantwoordbaarheid, deursigtige bestuur en wettige besluitneming te verseker. Inwoners van die Johannesburg-metro verdien duidelike antwoorde oor hoe hierdie enorme verhoging bereken is, waarom dit nodig is en of dit aan die wet voldoen,” sluit De Vaal af.



