Delportshoop-tak verbeter veiligheid deur strate en voetpaaie skoon te maak
AfriForum se Delportshoop-tak het op 22 en 23 Junie verskeie instandhoudingsprojekte aangepak om openbare ruimtes veiliger en netjieser vir inwoners te maak.
Tydens dié projek het twee kontrakteurs bossies en doringbome langs Delportstraat, vanaf die poskantoor, verwyder. Dit het ook gehelp om sigbaarheid te verbeter en moontlike wegkruipplekke vir misdadigers uit te skakel.
Daarbenewens is bossies in Hanekomstraat gesnoei, waar talle skoolkinders daagliks ná skool stap. Die kontrakteurs het bossiekappers gebruik om die voetpad veiliger en meer toeganklik te maak vir voetgangers.
Die span het ook die gedeelte vanaf Hoërskool Delportshoop tot by die winkels skoongemaak deur lang gras en oorgroeide plantegroei te verwyder. Hierdie gedeelte word gereeld deur inwoners en leerders gebruik.
Hierdie projekte vorm deel van AfriForum se voortdurende strewe om gemeenskappe deur praktiese selfdoen-oplossings veiliger en netjieser te maak. Die tak glo dat klein, doelgerigte projekte ’n tasbare verskil in inwoners se daaglikse lewe maak.
“Wanneer inwoners en vrywilligers saam verantwoordelikheid vir hul omgewing aanvaar, skep ons veiliger ruimtes vir almal. Hierdie projekte verbeter nie net die voorkoms van Delportshoop nie, maar dra ook by tot groter veiligheid vir voetgangers en die gemeenskap,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.



