| | |

Nóg AfriForum-buurtwaglede voltooi 27ste protospan-kursus

’n Groep van 17 AfriForum-buurtwaglede van oor die hele Wes-Kaap het van 15 tot 18 Julie die 27ste protospan-kursus suksesvol buite die Paarl voltooi. Hierdie kursus word deur AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid aangebied om buurtwaglede se vaardighede, dissipline en gereedheid te versterk.

Die deelnemers het bestaan uit lede van Worcester,  Paarl, Hopefield, Stellenbosch, Oudtshoorn en die Overstrand-tak.

Die protospan-kursus is uitsluitlik beskikbaar vir AfriForum-buurtwaglede wat gelisensieerde vuurwapens besit en aan die toepaslike wetlike vereistes voldoen. Die kursus fokus hoofsaaklik op taktiese vuurwapenhantering in span verwantskap, arrestasie tegnieke en veilige optrede tydens hoë risiko voorvalle. Die opleiding berus ook oor selfverdediging tegnieke en teoretiese sessies.

Protospanne is ’n gespesialiseerde veiligheidsreaksieeenhede van AfriForum wat bestaan uit hoogsopgeleide vrywilligers wat buurt- en plaaswagte ondersteun tydens hoë risiko operasies. Die opleiding stel hulle ook bloot aan verskeie realistiese scenario’s sodat hulle ingeligte besluite onder druk kan neem en te alle tye binne die raamwerk van die wet optree.

“Doeltreffende gemeenskapsveiligheid berus op deeglike opleiding, dissipline en ’n goeie begrip van die wet. Hierdie kursus verseker dat buurtwaglede hul vaardighede verbeter, asook verantwoordelik optree en die regte besluite kan neem wanneer hulle in noodsituasies beland,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

“Ons wil ook ons opregte gelukwense aan die nuwe protospan-lede uitspreek met die suksesvolle voltooiing van hierdie uitdagende kursus. Julle toewyding, deursettingsvermoë en bereidwilligheid om tyd in opleiding te belê, getuig van julle verbintenis tot die veiligheid van julle gemeenskappe,” voeg Van Dalen by.

Van Dalen bedank in besonder die instrukteurs David Olivier, Johan Crous, Rudi Spamers en Willem van Zyl vir hul kundigheid, toewyding en professionele aanbieding van die kursus. “Julle bereidwilligheid om kennis en ervaring met die deelnemers te deel, dra daartoe by dat AfriForum se buurtwagte met selfvertroue, verantwoordelikheid en binne die raamwerk van die wet hul gemeenskappe kan dien.”

AfriForum bly daartoe verbind om sy buurtwagte deur middel van verantwoordelike opleiding en voortdurende ontwikkeling te ondersteun sodat hulle, binne die raamwerk van die wet, ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van hul gemeenskappe kan lewer.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Veiligheid